Local news

Geliefde apteker oorlede

Elize Matthee, ’n geliefde apteker van Modimolle, is Sondag onverwags aan ’n hartaanval oorlede.

Die 71-jarige Matthee was bekend in die gemeenskap vir haar goeie raad by Van Heerden Apteek in die Sparrow-sentrum in Modimolle. Sy het 27 jaar lank by die apteek gewerk.

Volgens haar skoondogter, Corné Matthee, het sy sedert 1988 in Modimolle gewoon.

Sy het op ’n plaas buite Fochville grootgeword en aan Hoërskool Vereeniging gematrikuleer waarna sy haar B Sc. Pharm-graad aan die destydse Universiteit van Potchefstroom behaal het.

Haar gesin en kollegas onthou haar as ’n omgee-mens wat haar man, kinders, familie en gemeenskap altyd eerste geplaas het.

“Sy het altyd uit haar pad gegaan om almal wat haar pad gekruis het, na die beste van haar vermoë te help. Niks was vir haar te veel om vir iemand te doen nie. Sy is iemand wat haar lewe voluit geleef het; ’n wonderlike vrou, ma en ouma vir haar familie,” het haar skoondogter gesê.

Matthee laat haar man, Hennie, twee seuns Rigardt en Leon, haar skoondogters Jolandi en Corné, asook ses kleinkinders agter. Haar seun, Hennie, is in 2018 op 39-jarige ouderdom oorlede.

’n Troosdiens word op Maandag 27 November om 11:00 in die NG-gemeente Nylstroom-Oos gehou.

Related Articles

Back to top button