Local news

Skrywer onthou kinderjare in bundel

Fanus Strydom se nuwe kortverhaalbundel is hoek-tot-kant gepak met beelde wat ’n mens daardie lank vergete herinneringe uit jou kinderjare laat opdiep.

Dié bundel, gedoop Droomverhale, word op Saterdag 4 November bekendgestel.

Strydom, wat drie jaar gelede in Modimolle kom aftree het, het toe besluit dit is tyd vir skryf. Hy was verlede jaar die wenner van die Groep 7 Uitgewersprys vir Volwasse Kortverhale met sy kortverhaal “Kaiings om die kampvuur” tydens die INK-spraak/skryfkompetisie. As prys het hy die publikasie van ’n bundel kortverhale gewen.

“Ek het nooit gedink dat ek ’n boek sou skryf nie. Ek het as tuinboukundige en as holistiese gesondheidspraktisyn in byna elke groot stad in die land gewoon en ook wyd oor die wêreld heen gereis. Ek kyk en luister fyn na mense en dinge om my. Dit het my egter lank geneem om my eie stem te vind. Mense hou dikwels nie daarvan as jy nie met hulle saamstem nie. Noudat ek 60 is, het ek besluit dat ek nie gaan stilbly nie en my menings gaan neerskryf,” het hy vertel.

Benewens die kortverhale, dig hy ook en skryf ’n fiksieboek.

“Nadat ek die prys gewen het, het ek 10 maande gehad om nog 20 kortverhale te skryf om die bundel vol te maak. Ek geniet elke oomblik van die skryfproses — selfs die kritiek.”

Strydom put inspirasie vir baie van sy verhale uit sy kinderjare, veral die kuiers op sy grootouers se plaas in die Tzaneen-omgewing.

“Dit was die dae toe uitgebreide families nog saam om die tafel gesit en kuier het. Ek het soveel goeie herinneringe uit daardie dae.”

Sy stories laat die lesers soms hardop lag en soms diep nadink.

Die bundel se voorblad is deur ’n talentvolle jong meisie van Modimolle geskilder.

“Sy het my herinnering van ek en my oupa wat langs ’n grondpaadjie stap, so mooi vasgevang,” het Strydom gesê.

Hy het die 12-jarige Charné van der Colff genader om hom te help toe hy hoor dat sy mooi skilder.

Om die tydperk waaruit sy herinneringe spruit mooi vas te vang, het Strydom na ’n liedjie uit die FAK-sangbundel gaan soek.

“Vir elke storie kon ek een kry wat perfek pas. Ek moes die FAK nader om te hoor of ek dit wel in my boek kon gebruik en hulle was baie opgewonde daaroor,” het hy vertel. “Dit is so ’n stukkie van ons geskiedenis wat deur stories behoue bly.”

Strydom sê die terugvoering wat hy kry, veral dié van jongmense, maak hom baie bly.

Droomverhale is beskikbaar by Strydom. Vir meer inligting, bel hom by tel. 083 390 5057 of stuur ’n e-pos na fanusstrydom77@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button