LifestyleLocal news

Pa en seun verken landsgrense

’n Sleepvoertuig, ’n boswa-karavaan, ’n pa en seun en 24 dae om die grense van Suid-Afrika te verken.

Jakkie Boshoff (50) en sy pa, Kobus (80), van Modimolle het van 29 September tot 22 Oktober vanjaar ál om die buitenste grense van die land getoer en duisende kilometers grondpaaie verken.
Die langpad roep al lank vir Jakkie.

“My pa het bykans 30 toere deur die land afgelê sedert hy 16 jaar gelede afgetree het. Ek het besluit dit is nou ’n goeie tyd om saam te toer.”

Kobus hou sorgvuldig boek van die besonderhede van elke toer.

Pa en seun Kobus en Jakkie Boshoff het in 24 dae altesame 7 600 km reg om Suid-Afrika se grense getoer.

“Ek het na die kaarte gekyk van die paaie wat hy gery het en besef dat daar groot dele langs die grens is wat hy nog nie gery het nie. Ons het besluit om so naby as moontlik aan die grense van die land te toer.”

Die stroppe word vasgetrek sodat hul vrag stewig sit op rowwe grondpaaie.

Die twee het elke keer die roete wat hulle die naaste aan die kuslyn of die grens tussen die buurlande gaan bring, gekies.

“Ons het die ongelooflikste plekke gesien. Dit is moeilik om die gevoel oor te dra wat ’n mens so in die natuur kry. Daar is die grootsheid van die waterval wat teen die kranse in die see stort by Port St. Johns, kamp op die oewer van die Limpoporivier, leeus wat heelnag brul in die mooie Swaziland, die seesproei in mens se gesig by Koffiebaai en die hulpvaardigheid en vriendelikheid van die mense langs die pad,” vertel Jakkie.

Die twee het vanuit Modimolle weggespring en via Lephalale, Platjan en Musina tot by die Tshipise-vakansieoord gery waar hulle oornag het. Daarna is hulle deur Pafuri en Shingwedzi in die Krugerwildtuin na Swaziland waar hulle teen die Mosambiekse grens gery het. Vandaar is hulle kuslangs tot in die Kaap en Weskus langs tot bo teen die Namibiese grens.

Dit verg fyn beplanning en selfbeheersing om nie by elke interessante paadjie af te draai nie. Soms dui die kaart ook nie al die paaie aan nie. Kobus Boshoff soek hier na die naaste roete aan die grens.

Hulle het die roete met ’n Land Rover Discovery en ’n Jurgens Explorer boswa-karavaan aangepak.

Die Boshoffs het tydens die toer die natuurskoon en kontraste van Suid-Afrika geniet.

“Op sommige plekke kon ’n mens amper nie dink dit is in ons land nie.”

Die twee vertel van die eenvoudige, maar trotse bestaan van die mense in Transkei, hul kuier saam met vriende by die luukse La Motte-wynplaas en van visvang aan die Weskus.

Jakkie en Kobus Boshoff geniet hul ontbyt by Punda Maria-ruskamp in die Krugerwildtuin.

“Ons het teenaan die Weskus gery deur privaat plase en baie vasgesit in die sand. Ons het heerlik gesels met die mense wat ons kom help het.”

Teëspoed het hulle by St. Helenabaai getref toe ’n vragmotor in hul boswa vasgery het.

“Ons het iemand op Velddrif gekry wat dit kon herstel sodat ons verder kon toer. Alles het egter nie meer so goed gewerk ná die ongeluk nie. Ons beddegoed het baie stof gekry met die ryery, maar ons wou klaarmaak,” vertel Jakkie.

Daarna het die Richtersveld voorgelê. By die Helskloofpas het hulle ’n skamele 75 km in vyf ure gevorder en by Vioolsdrif moes hulle oor die Namibiese grens gaan om brandstof in te gooi.

“Na soveel dae wat ’n mens die see hoor dreun, het die absolute stilte van die Richtersveld amper ’n mens se ore seergemaak. Daar was nie eers ’n sonbesie nie. Daar is niks om te doen nie. Net tyd.”

Daarna het hulle langs die Oranjerivier met sy landboubedrywighede gekamp en hulle verkyk aan die dadelplase by Klein Pella.

Daarna het die roete gelei via Pofadder, Kakamas, Upington en Askam. Hulle het al langs die Moloporivier langs die grens met Botswana gery en in Kalahari-wêreld onder oneindige sterre geslaap. In Bray het hulle noodgedwonge brandstof by ’n Pakistani-winkeltjie in waterbottels gekoop en oor Mafikeng en Zeerust gereis.

“Die slegste grondpad van ons hele toer was in die Sentrum-omgewing naby Lephalale. Ons moes klippe in die pad pak sodat ons verder kon ry.”

Een van die dinge wat hulle opgeval het, is die vriendelike ontvangs wat hulle oral van Suid-Afrikaners ontvang het.

“Mense was nuuskierig om te hoor waar ons vandaan kom.”

“Die duurste van die toer was hul brandstof,” het Kobus vertel. “Ons het tweederdes van ons kos saamgery en verder langs die pad gekoop wat ons benodig het. Ons het selfs groente ingekry.”

Ná 7 600 km en terug by die huis moes die boswa afgeskryf word omdat die vragmotor te veel skade aangerig het.

“Dit was ’n voorreg om hierdie toer saam met my pa aan te pak,” het Jakkie gesê. “Ons beplan reeds aan ons volgende reis na Namibië en Botswana.”

Related Articles

Back to top button