Local news

Jong man ernstig beseer ná ongeluk

’n Jong man van Modimolle is in ’n ernstige toestand in die Milpark-hospitaal in Johannesburg nadat sy motorfiets teen ’n bakkie gebots het.

Kevin Bredenkamp (23) was op Vrydagoggend 10 November kort voor 09:00 uit Modimolle in die rigting van Vaalwater op pad toe hy in die botsing voor die departement van korrektiewe dienste betrokke was.

Kevin se motorfiets het die bakkie aan die linkerkant getref. Dit is steeds nie presies duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie.

Kevin Bredenkamp van Modimolle.

Ooggetuies op die toneel het vinnig hulp ontbied. Bredenkamp is deur die paramedici van Life24 na die FH Odendaal-hospitaal in die dorp vervoer waar hy gestabiliseer is voordat hy per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem is.

“Paramedici, asook dokters by die FH Odendaal-hospitaal was ongelooflik. Hulle was baie vinnig op die toneel en by die hospitaal het hulle ons op hoogte gehou en verduidelik wat volgende gaan gebeur,” het Christo Bredenkamp, Kevin se pa, gesê.

Pa en seun doen saam sonkraginstallasies by hul onderneming Solar Connection.

Kevin het hoofbeserings opgedoen en van sy ribbes is gebreek. Christo het Dinsdagoggend aan Die Pos gesê hy en sy vrou, Alta, is baie verlig oor die verbetering wat hul seun toon.

“Die swelling op sy brein het verminder en daar is genadiglik nie bloeding nie. Hy het wel sy linkerpinkie verloor,” het hy gesê. “Dit is glad nie lekker om hom so te sien nie. Al sy beserings is aan die linkerkant.”

Omstanders op die toneel het onder mekaar gepraat oor hoe gevaarlik die draai is. Dit is ’n kort afstand van die hoofkruising in die dorp, maar die draai wat die pad maak, belemmer bestuurders se sig. Indien iemand vanuit die hoofpad in een van die systrate, veral Vosstraat, draai, het die aankomende verkeer baie kort waarskuwing.



’n Tragedie het in 2013 afgespeel toe twee hoërskoolleerders op dieselfde plek in ’n ongeluk was. Arno Röntgen (16) is oorlede en sy meisie, Shanni Britz (15), is ernstig beseer nadat hulle motorfiets teen ’n vragmotor gebots het. Talle ander ongelukke het ook al daar plaasgevind.

“Ons is bekommerd oor daardie deel van die pad en wil dit graag aanspreek. Dit is nie nodig dat nog mense seerkry nie,” het Christo gesê.

Related Articles

Back to top button