Local news

Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep

’n Knap boervrou van Mookgophong, Ciska Jooste, het so drie jaar gelede begin om haar boerdery uit te brei.

“Dit is eintlik meer ’n stokperdjie as boerdery,” het sy gesê oor die Easter Egger-hoenders waarmee sy boer.

Sy boer op ’n plaas tussen Mookgophong en Modimolle wat al 34 jaar aan haar familie behoort.

“Ek het die plaas ná my pa se dood uit die boedel gekoop en het ’n kudde beefmaster-beeste hier gevestig,” het sy vertel.

Die hoenders het haar so drie jaar gelede begin interesseer en toe het sy begin met haar “hoendertjies” soos sy hulle noem. Sy was aanvanklik in die ingenieursbedryf en het haarself as projekbestuurder aan die Universiteit Stellenbosch bekwaam.

Volgens Jooste is die Mapuche-hoenders oorspronklik van Suid-Amerika afkomstig. Hulle is vernoem na die inheemse groep mense wat daar woon. Die ras is in die sewentigerjare gekruis met ’n Amerikaanse hoender en het toe bekend geraak as die Araucana. In die volksmond is hulle bekend as die “Easter eggers” omdat hulle gekleurde eiers lê.

Die mees kenmerkende eienskap is die feit dat hulle baie klein koppies het. Kenmerkende baardjies kom by die hane en henne voor. Die hane het gewoonlik ’n parmantige “pea comb” terwyl die henne net ’n klein kuifie het, het sy vertel. Die bene van die interessante hoenders kan swart, groen of blou wees met of sonder vere. Die kleur van die hoenders is nie beperk nie en kan lyk soos kantwerk (”lace”).

Die hoenders se kenmerkende gekleurde eiers is te danke aan ’n geen genaamd OOCYAN wat ’n pigment in die lewer is. Die kleur eier wat die hen lê, sal altyd haar unieke kleur bly. Die intensiteit van die kleur kan egter verskil. Die algemeenste kleure is blou, groen of ’n ligte bruin skakering wat amper pienk is.

“Ek droom daarvan om die kleurwiel te voltooi en al die verskillende kleure te kry. My spoghaan se naam is Sexy en hy is baie gewild onder die henne. Hy is mak en sal sommer in die huis stap as hy wil,” het Ciska trots gesê.

Related Articles

Back to top button