Local news

Ysterperde ingespan vir goeie doel

Vergete was die skete, pille en brille.

Bejaardes wat agterop motorfietse deur die hoofstraat van Mokopane ry, is alles deel van die Brille en Pille-pretdag wat die Piet Potgieter Monument-ouetehuis elke jaar hou.

Dié gewilde fondsinsamelingsprojek is verlede Saterdag (4 November) vir die 18de keer gehou en die ysterperde se enjins het vroegoggend al behoorlik gebrul.

Vergete was die bejaardes se skete, pille en brille. Die pretdag smee goeie bande tussen die inwoners van die tehuis en die gemeenskap. Dit vul ook die geldkoffers van die ouetehuis aan, sê Mariana van Tonder, bestuurder van die tehuis.

Die motorfietse en oues van dae is gereed vir die massaoptog.

Van die bejaardes het nog kans gesien vir ’n rit agterop ’n motorfiets. Sommige inwoners het in die optog saamgestap, terwyl ander deur personeel en inwoners van die dorp in hul rystoele gestoot is. Niemand is uitgesluit in die dag se vermaak wat al teen ligdag begin het met ’n 5 km ‘Color Run’ voor die brullende motorfietse opgedaag het.

Saam met al die pret is daar ook op die tehuis se terrein musiek gemaak en basaar gehou met stalletjies wat elke jaar sorg vir handwerk, tuisgebak en heerlike eet- en drinkgoed.

Related Articles

Back to top button