CrimeLocal news

Wat van die hofbevel? vra beesboer

"Ons is besig om aansoek te doen vir ’n bevel dat die respondent in die saak die hof minag."

Die onmin en gevolglike hofsake wat die sterfte van tientalle beeste aan snotsiekte tussen bure buite Modimolle veroorsaak het, woed steeds voort.

Een van die boere beweer nou dat sy buurman ’n hofbevel minag.

’n Hofbevel wat op Dinsdag 8 Augustus aan die beesboer Leander Shepherd van Jocawa Beleggings toegestaan is, bepaal dat sy buurman, Gys Pitzer van Castle de Wildt, nie later as 30 September ’n heining moet oprig om sy wildebeeste weg van die gedeelde grensdraad te hou om die verspeiding van snotsiekte te verhoed. Shepherd se voerkrale, wat langs die grensdraad geleë is, moet ook op hul onkoste geskuif word na ’n ligging wat hy aandui met water, elektrisiteit en die bestaande veiligheidskameras.

Hoewel die heining opgerig is, is die voerkrale glo nie teen Dinsdag 7 November geskuif nie.

By navraag het Pitzer egter aangedui dat hy in ’n geskil met Shepherd gewikkel is oor die koste en ontwerp van die voerkraal. Hy wou nie verder kommentaar lewer voordat die saak afgehandel is nie.

Castle de Wildt bied bees- en wildveilings, asook jaggeleenthede aan. Bure glo dat die wildebeeste wat op hierdie stuk grond teen hul grensdrade loop, die oorsaak van snotsiekte onder hul beeste is. Snotsiekte (bovine malignant catarrhal fever) is ’n virussiekte wat van wildebeeste en buffels oorgedra word na beeste en is dodelik met geen doeltreffende behandeling nie.

Shepherd het aan Die Pos gesê dat die kwotasie wat hy van ’n plaaslike onderneming aangevra het om die voerkraal te skuif, R4,3 miljoen beloop.

“Die probleem is dat die kraal, voerstoor, drukgang, afleivore en misdamme ’n eenheid is en saam geskuif moet word. Die kraal is teen hellings gebou sodat water wegloop en nie bly staan nie. Die Klein Nylrivier vloei deur die plaas en hier is vleie waarom ons moet werk — die plaas is maar 450 m wyd. Die kwotasie wat ons ontvang het, maak ook voorsiening vir 300 mm kompaksie van die voerkraal,” het Shepherd gesê. “Ons voerkraal is só ontwerp dat ons die beeste maklik kan skuif en met die minimum arbeid kan werk wanneer nodig. Ons sal dit graag so wil behou.”

Shepherd is ongelukkig oor die verlies aan inkomste wat hy ly. Hy voer aan dat sy voerkraal sedert die uitbraak van die siekte in Mei leegstaan. Hy het in 2021 tien Boranbeeste aan snotsiekte verloor en in 2023 vyftien, het hy gesê.

Shepherd het die prokureur Marinus van Jaarsveld opdrag gegee om verder namens hom op te tree. Van Jaarsveld tree ook op namens ’n ander buurman, dr. Hennie Nel.

“Ons is besig om aansoek te doen vir ’n bevel dat die respondent in die saak die hof minag omdat die bevel nie nagekom is nie,” het Van Jaarsveld gesê.

Die respondente in die saak was die plase waarop Castle de Wildt bedryf word naamlik Hartsplaas (PTY) LTD en Crucial Trade 90 (PTY) LTD, asook Gys Pitzer en die vorige eienaar, Bernard Groenewald.

Nel se dringende hofaansoek is op Dinsdag 8 Augustus deur die hooggeregshof in Polokwane van die hand gewys. Dié aansoek het gevra dat sy buurman onmiddellik al sy wildebeeste en buffels moet verwyder, nadat Nel altesame 13 Santa Gertrudis-stoetbeeste weens snotsiekte verloor het.

Volgens Van Jaarsveld wag hulle om te hoor of hul aansoek om verlof om te appelleer aangehoor kan word.

Related Articles

Back to top button