Local news

Net betyds uit motor voor dit brand

"Ons was besig om uit te klim toe ruik ek dat iets begin brand."

’n Jong man wat kopgehou het ná ’n motorongeluk, het fotograaf Herman Steyn baie skade gespaar deur die kameras, ’n hommeltuig, verkykers, skootrekenaars en ander toerusting uit hul voertuig te verwyder voordat dit aan die brand geslaan het.

Steyn en sy 24-jarige assistent, Wian van Biljon, was op pad na ’n kliënt buite Thabazimbi toe die motorongeluk naby die brug by die Zwartkloof-natuurreservaat net buite Bela-Bela gebeur het. Steyn het Van Biljon se bakkie bestuur.

Van Biljon vertel dat die voertuig teen die reling van die brug gebots en daarna dwars oor die pad beland het.

Die voertuig het eers gebots voordat dit aan die brand geslaan het.

“Ons was besig om uit te klim toe ruik ek dat iets begin brand. Ons was nog lam van die skrik,” het Van Biljon gesê.

Steyn het kopwonde opgedoen wat erg gebloei het. Hy loop tans met ’n loopraam omdat hy herstel van ’n heupoperasie.

Die bakkie het kort daarna aan die brand geslaan en verbygangers het stilgehou om die mans te help. Volgens Dique van Biljon, Wian se oupa wat van Modimolle af gehaas het na die toneel, was daar sowat 40 voertuie op die toneel omdat die brandende bakkie die pad versper het.

Wian van Biljon.

“Ons is baie verlig dat die reling oor die brug gehou het, want dit is ’n hele paar meter se val ondertoe,” het hy gesê.

Steyn is per ambulans na ’n hospitaal in Pretoria vervoer waar hy behandeling vir snywonde aan sy kop en ’n geskeurde skouerspier ontvang het. Hy was teen Dinsdagmiddag nog nie ontslaan nie.

Van Biljon het benewens die groot skrik en ’n paar blou kolle, lig daarvan afgekom. Hy glo dit was danksy sy veiligheidsgordel.

“Ons is so dankbaar teenoor die mense wat vir Wian en Herman op die toneel gehelp het. Ons het só geskrik dat ons nie hul name of kontakbesonderhede gevra het nie,” het Annatjie van Biljon, Wian se ouma gesê.

Related Articles

Back to top button