Local news

Mighty Men-kongres op Springbokvlakte

Unetsie Turvey, bekende boer van die Springbokvlakte, en sy span het skaars ses maande gelede begin met die voorbereiding van die aanbied van die Mighty Men-kongres op sy plaas Uitkomst in die Crecy-omgewing.

Die kongres is die naweek van 3-5 November gehou — die eerste keer dat dit in hierdie omgewing plaasgevind het. Die bekende evangelis Angus Buchan het die kongres vir die eerste keer in 2004 op sy plaas in KwaZulu-Natal gehou. Sedertdien het dit gegroei en word dit jaarliks op verskeie plekke in die land gehou.

Volgens Turvey het Steven Haggard van Shalom Ministries in Mookgophong hom gekontak en die saadjie geplant. Die beplanning het daarna in alle erns begin. Die kongresgangers het in die bos gekamp. ’n Kruis van 14 m met beligting is opgerig.

“Die kruis sal daar bly en sal elke aand oor die Vlakte skyn. Mense in die omgewing sal dit van baie ver kan sien,” het Turvey gesê.

Die 14 m hoë kruis is spesiaal vir die kongres aangebring.

Meer as 1 000 Christen-mans van oral uit Limpopo en ander provinsies het die kongres bygewoon. Die hoofrede en samekomste is by ’n groot boom op die plaas gehou. Die boom is bekend daarvoor dat boere van die omgewing gereeld daar saam kom om te bid. Kongresgangers van so ver as Oos-Londen en Malelane was daar.

Verskeie sprekers soos Henk Kleinschmidt, Jacques Kilian, Eugene Genis en Hykie Berg het tydens die kongres opgetree en die bekende Franna Benadé was die seremoniemeester. Die manne het elke dag lofprysing onder die leiding van Shane Pretorius gehad. Die tema vir die kongres was “Liefde”.

Die Pos het met twee van die kongresgangers gesels oor hul ervaring.

“Dit was ’n ongelooflike naweek vir elke man wat daar was. Dit was veral vir my lekker om as man alleen daar te wees. Soos een van die sprekers gesê het: Om jou wapenskild (shield) neer te sit wat ons elke dag dra en net oop te maak om God se woord te hoor oor wat hy van ons mans verwag,” het Henrico Zerwick van Mookgophong gesê.

Nico Kruger van Mookgophong woon reeds tien jaar lank elke jaar die kongres by, maar vanjaar was ’n hoogtepunt omdat dit in sy eie omgewing was.

“’n Mens kry die gevoel van broederskap en dit bring jou nader aan die Here. Dit maak jou positief en laat jou besef dat jou verhouding met die Here die belangrikste riglyn is vir mans om die leier in hul gesinne te wees,” het hy gesê.

Die organiseerders het die borge bedank wat ’n reusebydrae gemaak het tot die sukses van die naweek.

Related Articles

Back to top button