Local news

Bekende Bela-Bela-inwoner sterf ná ongeluk

Vir die inwoners van Bela-Bela was die man op die bromponie met die kadot-valhelm ’n bekende gesig.

As jy die breë glimlag en die wuiwende hand gesien het, het jy geweet dit is Wynand (Bierie) Ferreira (62).

Hy was op Maandag 23 Oktober in die dorp in ’n ongeluk betrokke nadat hy met sy motorfiets uitgeswaai het vir ’n voorwerp wat by ’n minibus-taxi se venster uitgegooi is. Hy het beserings aan sy been opgedoen. Aangesien hy diabetes het, het sy familie voorsorg getref en hom na die Bela-Bela-hospitaal geneem vir behandeling. Die dokter aan diens het besluit om hom op te neem sodat hul antibiotika binne-aars kon toedien.

Sy dogter, Riez Briel, het aan Die Pos gesê hy het Donderdag so goed gelyk dat hulle gedink het hy sal ontslaan word. Hy het in die nag hoë koors ontwikkel en was teen Vrydag baie siek. Hy is op Saterdag 28 Oktober oorlede. Teen druktyd was die oorsaak van sy dood nog nie bekend nie.

Wynand was ‘n ywerige motorfiersryer en baie lief vir sy ‘ysterperd’.

Hy is in 1961 in Graaf Reinet gebore en sy familie het kort daarna Bosveld toe verhuis. Hy het die grootste deel van sy skoolloopbaan by Hoërskool Hans Strijdom deurgebring. Hy het matriek aan Hoërskool Warmbad voltooi en was ’n kranige atleet. Sy 1 500 m rekord is in 1981 opgestel en staan tot hede toe nog by sy alma mater.

Hy het ná skool sy diensplig voltooi en toe teruggekeer Waterberg toe. Hy was ’n staatmaker in die graanbedryf en het by verskeie graansilo’s in die omgewing, Lehau, Pienaarsrivier, Settlers en Warmbad gewerk. Hy was bekend in die boeregemeenskap en het altyd ’n helpende hand uitgereik. Sy filosofie was as hy nie kan help nie, ken hy iemand wat kan.

In die dorp was hy ’n aktiewe lid van die sportklub en op sy dag uithalerkorfbal gespeel. Hy was ook lid van die motorfietsklub en was verknog aan sy ysterperd. Hy was baie jare voorsitter van die Lionsklub in Bela-Bela en was die dryfveer agter verskeie suksesvolle Toy Run’s in samewerking met ander motorfietsklubs ten bate van Huis Talje en Huis Tekna.

Sy goeie vriend en buurman vir baie jare, Bertie Scheepers, het hom destyds “Buurman” begin noem en met verloop van tyd het dit “Bierie” geword. Teen die einde van sy lewe het almal hom só genoem.

Ferreira is die pa van twee dogters, Mariska Burger wat nou in Nieu-Seeland woon en Riez van Bela-Bela. Hy het van hul skooldae graag met sy twee pragtige dogters gespog. Hulle het by navraag aan Die Pos gesê dat hy hulle beste vriend en ’n staatmaker was. Hulle het ook vertel hoe hy elke oggend en aand vir tientalle inwoners boodskappe van bemoediging gestuur het.

Hy laat sy dogters en skoonseuns, Chris Briel, Pieter Burger agter, asook sy drie kleinkinders wat sy hart se punt was, Larissa van Wyk, Ricardo en Kailyn Burger. Sy suster Annemarie Steyn en sy vriendin, Engela Dicks, was ook baie na aan sy hart.

Sy roudiens vind op Saterdag 4 November om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente in Mentzlaan 34, Bela-Bela, plaas.

Related Articles

Back to top button