Local news

Argeoloë maak geskiedenis ná belangrike ontdekking

Daar is op Saterdag 21 Oktober letterlik en figuurlik geskiedenis gemaak in die koppies rondom Bela-Bela.

Johan van Niekerk van die Bela-Bela Heritage-organisasie het ’n tyd gelede ou murasies in die koppies langs die Platrivier in die Roodepoort-omgewing ontdek.

’n Groep argeoloë met verskeie belangstellingsvelde, agtergronde en kwalifikasies was baie opgewonde oor die ontdekking en het die afgelope naweek daar besoek afgelê.

Die groep kundiges het bestaan uit drs. Mariette Harcombe en Karin Scott van HeritageworX, Johan Smit van Archaetnos, Heidi Fivaz en Sky-Lee Fairhurst van Ubique Heritage Consultants en twee privaat argeoloë, Rina Faria en dr. Graham Reeks.

Tekens is gevind van ystersmeltery wat daaarop dui dat die gemeenskap wat hier gewoon het, baie meer gesofistikeerd was as blote beeswagters en landbouers.

Volgens Van Niekerk word die terrein voorlopig Utsane genoem. Die vermoede bestaan dat hierdie ’n laat-Ystertydperk-terrein is wat kan terugdateer na die jare 1 500 tot 1 800.

“’n Uitgebreide, gekoördineerde en beplande ekspedisie sal nou gereël word om die terrein weer te besoek en uitgrawings te doen,” het Van Niekerk gesê. “Tekens is gevind van ystersmeltery wat daaarop dui dat die gemeenskap wat hier gewoon het, baie meer gesofistikeerd was as blote beeswagters en landbouers. Daar is ook duidelike tekens gevind van die teenwoordigheid van Britse soldate wat in die dorp gestasioneer was tydens die Anglo-Boere Oorlog.”

Van Niekerk het gesê dit was vir die Bela-Bela Heritage-organisasie ’n groot voorreg om dié groep vakkundiges rond te wys en hulle sal in die toekoms nou met mekaar saamwerk om die terrein vir plaaslike en nasionale belang te beskerm en bewaar.

“Van die akademici het gesê dat hierdie vonds selfs op internasionale vlak van belang kan wees”, het hy gesê.

Volgens alle aanduidings beskou die span hierdie as ’n langtermynprojek wat tot tien jaar van intensiewe ondersoek, uitgrawings en navorsing kan inhou.

Die span het dit benadruk dat die volle samewerking en betrokkenheid van die hele gemeenskap, asook die plaaslike munisipaliteit, van uiterste belang is om te verseker dat hierdie argeologiese en nasionale erfenis behoue en bewaar bly.

Related Articles

Back to top button