Home & GardenLifestyleLocal news

Orgideë te kies en keur by skou

Somer is in die lug en die vaalheid van die winter het gewyk.

Jakarandas, clivias en amarille het reeds met hul blommeprag gespog, maar hierdie naweek is die beurt van die orgideë.

Die Vlakte Orgideë-vereniging hou op Saterdag 28 Oktober ’n groot uitstalling van hierdie blomme by die ModiMall in Modimolle. Dit val saam met die winkelsentrum se tiende verjaardagvieringe. Daar sal plante te koop wees, asook benodigdhede vir plantvoeding en plaagbestryding, plantbakke en vele meer.

Die vereniging se 25 lede het beslis groen vingers. Die vereniging bestaan reeds meer as 25 jaar. Die jongste orgideekweker is nog nie 20 nie en die oudstes is ouer as 80.

Lede van die Vlakte Orgideë-vereniging tydens ’n vorige skou.

Die orgidee-gogga het vir Ria Bronkhorst, een van die lede, sowat 20 jaar gelede gebyt.

“Dit het begin nadat iemand vir my ’n orgideë as geskenk gegee het en ek dit wou laat blom. Daarna het ek nog gekry en mettertyd ’n hele klompie versamel,” het sy gesê.

“Dit gee ’n mens die grootste genoegdoening as jy die plant vir jare lank pamperlang, ekstra plantvoeding gee en rondskuif net om te sien waar dit gelukkig is en dan verras dit jou eendag met blomknoppe. My gunsteling is die cattleya-orgideespesie wat ’n mens dikwels in bruidsruikers sien. Hulle is so groot en perfek en ruik boonop lekker ook. Nie alle orgideë ruik aangenaam nie; sommiges ruik slegs snags lekker om die motte wat dit bestuif te lok,” het sy vertel.

Die orgideename klink eksoties met dendrobium, paphiopedilum, cymbidium en psycopsis slegs enkeles.

Riaan de Villiers, voorsitter van die Vlakte Orgideë-vereniging.

Die vereniging se lede kom van so ver as Pretoria, Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong om hul spogplante uit te stal. Die kweek van orgideë is ’n uitdaging vir enige plantliefhebber. Die plante verkies vogtige lug en sekere temperature en die kweekhuise of plekke waar hulle gehou word, moet dus volgens hul behoeftes aangepas word. Kwekers moet ook op die uitkyk wees vir peste soos roes, virusse en plantluise.

“Orgideekwekers is veral op die uitkyk vir naakslakke — ons jag hulle in die nag met flitse,” vertel Bronkhorst laggend. Die plant moet ’n lekker smaak hê, want hulle smul aan die blomme, blare en bolle. “Die vanillaplant is ook in die orgideë-familie,” verduidelik sy.

Cattleya-orgidee.

Orgideekenners Tinus Oberholzer en Nollie Cilliers van Plantae Orchids besoek vanjaar die skou en bring ’n hele bakkievrag van hul mooi plante saam.

Besoekers aan die skou sal stem om die mooiste plant van die dag aan te wys.

Die uitstalling begin om 08:00 en duur tot 15:00 die middag. Dit is by Ingang 2, skuins oorkant die Spur-restaurant.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button