CrimeLocal news

Twee agter tralies ná aanval op vrou

Twee verdagtes is aangekeer nadat Janet Prinsloo (53) in Augustus by haar winkel Biltong Go Back tussen Vaalwater en Lephalale aangeval is.

Prinsloo is op Woensdag 23 Augustus oorval nadat sy teruggekeer het na haar huis op die plaas. Sy is hard teen die kop met ’n koevoet geslaan en het haar bewussyn vir ’n onbepaalde tydperk verloor. Prinsloo is in haar kamer vasgebind en die mans het ’n sak oor haar kop getrek en kort-kort ’n mes teen haar keel gedruk. Hulle het aanhoudend aan haar gesê dat hulle haar gaan skiet as sy nie vir hulle sê waar die geld is wat sy van die winkel af gebring het nie, het sy kort ná die aanval gesê. Sy het dit daardie dag by die winkel vergeet.

Nadat sy seker was die aanvallers is weg, het sy daarin geslaag om haar voete los te wikkel en met haar steeds vasgebinde hande deur ’n venster ontsnap om by die werkers sowat 300 m verder se huise te gaan hulp soek.

Prinsloo het aan Die Pos gesê dat sy die plaas, wat al amper ’n eeu in haar familie is, nou gaan verkoop.

“Ek sien nie kans om weer daar te bly nie,” het sy gesê.

Sy woon nou op ’n kleinhoewe naby Pretoria saam met haar suster en broer waar sy veiliger voel. Die gesin het ook kort ná die aanval hul ander suster aan die dood afgestaan.

Volgens AO Pieter Booyse, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is twee verdagtes aangekeer. Een van die mans het ’n bekentenis gemaak en is glo bereid om as staatsgetuie op te tree.

Hulle verskyn eersdaags in die hof vir ’n aansoek om regshulp.

“Die uitkenningsparade was vir my baie ontstellend. Daar het 20 mans in ’n ry gestaan. Daar was geen glas tussen my en die mans op die uitkenningsparade nie. Ek moes tot by dié wat ek dink betrokke was loop en my hand op hul skouers sit,” het sy gesê.

Sy vermoed dat van haar werknemers betrokke was by die aanval.

Volgens Booyse sal die een verdagte wat in hegtenis geneem is, binnekort na die toneel geneem word om moontlike uitwysings te maak.


Lees ook: Vrou oorleef aanval op plaas

Related Articles

Back to top button