CrimeLocal news

Ses verdagtes vas ná koelbloedige moord

Die Modimolle-polisie, in samewerking met hul eweknieë in ’n buurdorp, het die afgelope week ses mans aangekeer wat vermoedelik betrokke was by die moord op ’n 61-jarige sakeman in Lephalale.

Volgens die stasiewoordvoerder, AO Pieter Booyse, is die mans naby die tronk in Modimolle aangekeer toe hulle die dorp binnegery het.

“Ons het hulle ingewag nadat ons inligting oor die moord en gesteelde gasbottels ontvang het. Die sakeman, wat gasbottels langs sy huis verkoop het, is dood aangetref nadat gasbottels by hom gesteel is,” het Booyse gesê. “Die mans het die gasbottels op ’n bakkie gelaai, maar hul voertuig het langs die pad onklaar geraak. Hulle het iemand gebel wat ’n ander voertuig gebring het om die gasbottels op te laai en hulle voertuig in te sleep,” het hy gesê.

Van die gasbottels is blykbaar in die veld gegooi waar ’n vragmotor dit later opgelaai het. Die voorval het op Maandagoggend 16 Oktober omstreeks 01:00 in die Marapong-woongebied plaasgevind.

Volgens die provinsiale woordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, is ’n Gautengse sakeman, wat ook gasbottels verkoop, een van die verdagtes.

“Ons voorlopige ondersoek toon dat die eienaar afgekom het op die verdagtes terwyl hulle ingebreek het. Hy het hulle gekonfronteer en hulle het hom verwurg waarna hulle die gasbottels op hul voertuig gelaai en gevlug het.”

Die polisie het die verdagtes, wat in twee vragmotors en ’n nutsvoertuig was, aangekeer met die hulp van plaaslike veiligheidsinstansies. Hulle het sowat sewentig 9 kg-gasbottels met ’n waarde van R24 000 gevind, asook ses 19 kg-gasbottels met ’n waarde van R3 000. Al drie voertuie is gekonfiskeer.

Vyf van die aangekeerde verdagtes is buitelanders en die sesde is ’n Suid-Afrikaner.

Die mans sal eersdaags in die hof verskyn op aanklagte van moord en roof, het Ledwaba gesê.

  • In nog ’n deurbraak is ’n aantal verdagtes aangekeer nadat hulle glo boere in die Bela-Bela- en Loubad-omgewing geteister het met inbrake en koperdiefstal. Talle gesteelde items is volgens Booyse teruggevind.

Hy het inwoners van Modimolle gewaarsku dat die batterye van hekmotors steeds gesteel word en dat hulle voorsorgmaatreëls moet tref.

Related Articles

Back to top button