Local news

Lee hoop om sy rolstoel gou weg te pak

“Dr. Van Wyk het dit duidelik gemaak dat al die glorie vir my herstel aan die Here moet gaan en nie vir sy behandeling of my deursettingsvermoë nie. Ek stem heelhartig daarmee saam.”

Ná 23 jaar in ’n rolstoel hoop Lee Smith van Modimolle dat hy voor die einde van die jaar weer sal kan loop.

Die eerste positiewe tekens is reeds daar: hy het vir die eerste keer gevoel in sy voete en kan sy bene meer beweeg.

Hierdie deurbraak volg nadat Smith met stamselterapie by dr. Hennie van Wyk begin het. Hy het die afgelope week sy eerste stamselterapie ontvang. Daar was heelwat voorbereiding sodat die terapie optimaal kon werk. Volgens Smith sal die stamselle binne die volgende twee weke hul werk begin doen om beskadigde weefsel te herstel. Voor die stamselterapie het hy behandeling met koue laser en plaatjieverrykte plasma (platelet-rich plasma) ontvang en hy het ná elke behandeling vordering getoon.

Smith is enkele dae voor sy agtiende verjaardag in sy bed tydens ’n rooftog geskiet. Die koeël is deur sy arm, long en het sy rugmurg skrams getref. Aanvanklik was dokters nie seker of hy sou oorleef nie.

Smith was op skool ’n passievolle rugbyspeler. Nadat hy verlam is, het hy steeds sport beoefen. Hy het in 2017 ’n rekord tydens die Paralimpiese Wêreldarmdrukkampioenskap in Bulgarye opgestel in die “strict arm curl”-kategorie deur 75 kg te lig. Dié passie is voorlopig opsy geskuif sodat hy daarop kan fokus om weer te loop.

Sy vrou, Landi, is met elke behandeling aan sy sy. Smith deel sy vordering en doktersbesoeke op sy persoonlike Facebook-blad. In een van die video’s op Facebook lê Smith op sy maag op ’n hospitaalbed en moet hy raai waar aan sy bene Landi druk. Hulle opwinding oor sy vordering is aansteeklik.

“Ons het ongelooflik baie geleer van hoe die behandeling werk en die dokter verduidelik elke stap en verandering vir ons breedvoerig. Dit was so interessant om te sien hoe die bloed geskei word om die plasma te vervaardig,” het sy gesê.

Kort nadat Smith verlam is, het hy navorsing oor stamselterapie gedoen, maar dit het op daardie stadium sowat R6 miljoen gekos en was net in Europa moontlik. Die koste van sy terapie beloop nou R65 000 per sessie en hy moet drie sessies ontvang.

“Ons werk hard om nog geld in te samel vir die tweede stel stamselle. Die eerste sessie het duurder uitgewerk as wat ons verwag het,” het Lee gesê.

Smith, wat as lewensafrigter en berader werk, is baie dankbaar dat hy ’n dokter gekry het wat sy uitkyk en toekomsvisie deel.

“Dr. Van Wyk het dit duidelik gemaak dat al die glorie vir my herstel aan die Here moet gaan en nie vir sy behandeling of my deursettingsvermoë nie. Ek stem heelhartig daarmee saam.”

Met die vooruitsig dat hy binnekort weer kan loop, sê Smith dat hy nie spyt is oor twee dekades in die rolstoel nie.

“Dit het my in kontak met mense gebring wat ek andersins nie sou ontmoet het nie en my gehelp om ander te kan help,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button