Local news

Vroue leer meer oor lieflike laventel

Die Vroue Landbou-unie se Nylstroom-tak in Modimolle fokus vanjaar op laventel as produk.

Met dié tema in gedagte het ’n groep vroue op Donderdag 14 September die Liefland-laventelplaas buite Mookgophong besoek.

Dit was ’n insiggewende oggend tussen die lappe pers laventel met die uitstappie wat afgesluit is met ’n onverbeterlike ete, tuisgemaakte limonade met ’n takkie laventel in en lekker kuier saam met vriende.

Die vroue kon van naderby sien hoe laventel gedistilleer word om laventel-olie te verkry. Die olie is kragtig en die stoker moet handskoene dra om sy hande te beskerm. Die vloeistof wat in die proses afgetap word, kan gebruik word om op linne te spuit om dit ’n heerlike vars reuk te gee. Laventel-olie is bekend vir die kalmerende effek wat dit het en word in verskeie kosmetiese produkte gebruik.

Liefland plant ’n verskeidenheid laventelspesies wat eie aan verskillende lande is en elk het hul unieke eienskappe wat die produkte van Liefland verbeter.

Die vroue het goeie raad gekry om hul laventelplante in hul tuine reg te snoei. Die kenners stel voor dat een derde van die plant jaarliks van bo af gesnoei moet word. Dit stimuleer nuwe groei en die plant sal meer blom. ’n Plant se leeftyd is tussen drie en vyf jaar.

Die vroue is aan verskeie produkte bekendgestel wat van laventel gemaak word. Die laventeltee is kalmerend en die potpourri se geur is sag en strelend. Anders as roosblare wat gewoonlik gebruik word, verloor laventel nie sy geur nie. Die fudge met ’n tikkie laventel is fluweel op die tong. Die skoonheidsprodukte soos seep, handeroom en masseerolies het groot byval by die besoekers gevind.

’n Uitstappie na dié juweel in die Waterberg moet beslis op inwoners en besoekers se lysie wees.

Related Articles

Back to top button