Local news

Swartaasvoël gaan noukeurig dopgehou word

’n Swartaasvoëlkuiken se bewegings gaan nou gemoniteer kan word danksy ’n opsporingstoestel wat aan die voël vasgesit is.

Vulpro, ’n nie-winsgewende organisasie wat omsien na die bewaring en ook navorsing doen oor aasvoëls, het uiteindelik hul eerste swartaasvoëlbroeiplek gevind en gaan nou ’n kuiken se gedrag dophou en aanteken.

Die organisasie het op Saterdag 30 September die toestel aan ’n swartaasvoëlkuiken aangebring. Dit is die eerste keer dat so iets in Suid Afrika gedoen word en dit nogal hier in Limpopo, sê Mariza Hamman, ’n vrywillige werker van Vulpro.

Daar is ’n tekort aan data oor swartaasvoëls met bitter min inligting oor broeiplekke in die land. Juis daarom het Vulpro onlangs die projek geloods om meer te leer oor dié bedreigde spesie.

“Die doel is om onder meer te leer oor die voëls se bewegings, waar hulle broei, waar hulle eet en watter gevare vir hulle bestaan. Met dié inligting kan hulle voortbestaan beskerm word. “

Hamman sê die kuiken is volgroeid, maar sal eers oor ’n maand of twee self begin vlieg en rondbeweeg.

“Een vraag wat ons baie kry is of die ouers hom nie sal verwerp nie. Die antwoord is nee. Dit is ’n mite dat voëls hulle kuikens sal verwerp omdat hulle ‘soos mense ruik’ of deur mense hanteer is. Die hele proses duur slegs ’n paar minute en natuurlik word dit baie goed beplan sodat die kuiken veilig is.”

Tekens dat ’n aasvoël in nood is, sluit in dat hy op die grond is en nie kan opvlieg as mense naderkom nie, die voël soms in ’n dam is en nie self kan uitkom nie of as die voël ooglopende beserings soos ’n gebreekte been of vlerk het.

Hamman vra dat mense Vulpro kontak as hulle weet van nog neste of swartaasvoëls op hulle eiendom sien.

Kontak gerus vir Kerri Wolter, Vulpro se stigter, by tel. 082 8085 113 of Mariza Hamman by tel. 083 3073 615.

Related Articles

Back to top button