Local news

Magrietjies dankbaar vir skenking van rolstoele

Die Magrietjies-kankerhulpgroep in Mookgophong is baie opgewonde en dankbaar vir die vier bykans nuwe rolstoele wat hulle van die Lewensvreug Dienssentrum in die dorp ontvang het.

Neels van Vliet, voorsitter van die Dienssentrum, het aan Die Pos gesê die skenking is vir hulle ’n voorreg aangesien die Magrietjies baat daarby kan vind in hul versorging van kankerpasiënte in die omgewing. Die rolstoele is voorheen gebruik om die bejaardes van die Naboom Tuiste vir Bejaardes in die dorp rond te stoot, maar hierdie tradisie het verval.

Volgens Rosemarie Steyn, voorsitter van die Magrietjies, is daar tans 29 pasiënte in die dorp wat deur die vrywilligers versorg word.

“Ons het egter te min verpleegpersoneel en ons sal baie dankbaar wees indien daar iemand is wat hulp kan verleen,” het sy gesê.

Die Dienssentrum hou gereeld verkopings en het ook ’n winkeltjie waar snuisterye, boeke en tuisgebak verkoop word om die bejaardes by te staan en hulp aan organisasies soos die Magrietjies te verleen.

“Ons beplan nog ’n paar projekte vir die res van die jaar om ons geldkoffer te verstewig. Die Dienssentrum en die Magrietjies hou op Vrydag 15 Desember ’n Kerssangdiens by die NG Kerk,” het Van Vliet gesê.

Die groep het in 1994 ontstaan onder die leiding van ’n verpleegsuster, Tonny Oerlemans. In April 2000 het hulle weggebreek onder die beskerming van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en funksioneer nou onder die beskerming van die Naboom Welsynsorganisasie vir Bejaardes (NWOB).

Die Magrietjies is heeltemal afhanklik van die gemeenskap en fondsinsamelingsprojekte wat deur die gemeenskap en kerke gehou word.

Skakel gerus die kantoor op weeksdae tussen 09:00 en 11.00 by tel. (014) 743 2330 of besoek hulle op ’n Donderdag tussen 09.00 en 11:00.

Related Articles

Back to top button