Local news

Duisende treë van dankbaarheid

Gewapen met stapskoene en ’n rugsak het ’n plaaslike leraar die berge en dale van die Tuinroete aangedurf.

Ds. Ewald Schmidt van die NG-gemeente Nylstroom-Oos het gedurende September twee weke lank die Pelgrimstog van Hoop se Tuinroete-been afgelê. Die roete, wat oor 270 km strek, begin in Uniondale en kronkel tussen Karooland, die Prins Alfred-pas se berge en strandlangs tot by die St. Blaise-vuurtoring in Mosselbaai.

Schmidt word gereeld padlangs gesien waar hy talle kilometers aflê ter voorbereiding van sy Pelgrimstogte.

Hy het 12 jaar gelede die Camino de Santiago se Franse roete, wat 317 km lank is, afgelê en ses jaar daarna die Portugese roete van 250 km saam met sy vrou, Annelie, voltooi.

Stap, glo hy, is ’n metafoor vir die lewe.

“Dit is nie net goed vir jou liggaam nie, maar ook geestelik. Dit gee ’n mens die geleentheid om die pause-knoppie van die lewe te druk en na te dink oor waar jy op jou lewensreis is. So sonder selfoonsein kry ’n mens ook die geleentheid vir ’n digitale detoks,” vertel hy.

Op 56-jarige ouderdom was hy die tweedejongste in die groep stappers. Die oudste was ’n flinke 78 jaar.

“Ons was aanvanklik vyf mense wat in Uniondale begin stap het, maar nog drie mense het later by ons aangesluit,” het hy gesê.

Die roete strek deur peer- en appelwêreld wat soms ysig koud word. Op een van die dae het hulle in ysreën gestap. Die groep stappers het een van die aande in die Buffelsdrift-kerkie, tussen ’n groot skeur en ’n rivierloop, oornag.

Schmidt is vergesel deur Bernard de Beer, ’n bloedrooi gebreide teddiebeer met “Jesus het my lief” op sy borskas geskryf. Sy Bybelstudie-groep het vir elke laerskoolkind in die gemeente so ’n beer gegee.

“Ons verblyf was sommige aande by plaaslike inwoners, soms baie nederige mense, en ander aande in baie luukse akkommodasie. Ons het heerlik geëet. Die manier hoe die mense ons ontvang het, het my herinner aan dit wat ek op die Camino beleef het.”

Van die hoogtepunte op die roete was toe hulle op die negende dag op die Montagu-pad die see in die verte kon sien.

“As ’n mens oor die Outeniqua-pas gestap kom, kan jy reeds jou eindbestemming sien. Tussen Groot Brak en Hartenbos het ons walvisse in die water sien speel wat ook besonders was.”

Hulle is eers op dag 12 van die roete deur ’n dorp.

“Ek kan hierdie toer van my opsom in een woord: dankbaarheid. Ek het waardering geleer vir die mooi dinge om my, of dit nou ’n klein blou blommetjie was, koue water of die mense wat ons langs die pad ingewag het met kos,” het Schmidt gesê.

Die Pelgrimstog van Hoop bestaan uit drie roetes. Die Tuinroete-deel word bestuur deur die NG Kerk Harold. Daar is sewe klein kerkies op die roete. Die ander twee roetes lei van Stellenbosch tot by Kaap Agulhas en van Robertson tot by Kaap Agulhas.

Related Articles

Back to top button