Local news

Oud-Hansie sterf tydens ongeluk

Tiaan Grové (19), ’n geliefde jong man en oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het op Sondag 1 Oktober gesterf nadat sy Toyota Tazz die pad verlaat en omgeslaan het.

Tiaan en sy vriend, Waldi Smit, was op pad na Modimolle toe die ongeluk by die Middelfontein T-aansluiting op die R101 vanaf Mookgophong gebeur het. Volgens Antoinette Wagener, Tiaan se ouma en DA-raadslid in die dorp, is daar nog nie sekerheid wat presies gebeur het nie. Smit is ongedeerd, maar Tiaan, wat die motor bestuur het, is klaarblyklik op slag dood.

Die twee mans het vroeër die aand rugby gekyk in Mookgophong.

Tiaan het in 2022 matriek geskryf en die afgelope sewe maande as assistent-tegnikus by Cavallier in Cullinan in Gauteng gewerk. Sy werkgewer het hom beskryf as iemand met besondere potensiaal en gesê hy sal baie gemis word.

“Al was hy jonk, het hy nooit gehuiwer om meer as sy deel te doen nie,” het Clayton Hindle aan die familie gesê. Tiaan het by sy oom, Hennie Wagener, gewoon.

Sy ouers, Christo en Ronel Grové, het drie weke gelede van Mokopane af verhuis en woon net ’n paar huise van sy grootouers af. Dit was die eerste keer sedert hy begin werk het, dat hy ’n naweek saam met sy gesin deurgebring het.

Hy was baie geliefd onder sy skoolmaats en onderwysers.

“Tiaan was altyd vol grappies en was ’n regte terggees. Hy was lief vir die buitelug en ’n uitstekende skut. Ons harte is stukkend oor ons sonskynkind,” het Antoinette aan Die Pos gesê.

Sy het die polisie geloof vir hul optrede en hulp wat almal aan hulle verleen het.

Related Articles

Back to top button