Local news

Beroepsjagter sterk goed aan ná ongeluk

Dit gaan heelwat beter met Gerhard Steenkamp, bekende in jagkringe en inwoner van Mookgophong, wat sy heup op Vrydag 1 September gebreek het toe hy die trappie van sy bakkie misgetrap en agteroor op die sement geval het.

Steenkamp is in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria opgeneem waar hy ’n geruime tyd moes wag om ’n heupvervanging te kry.

Aangesien hy nie aan ’n mediese fonds behoort nie, het vriende en familie ’n aanlynfonds gestig om te help sodat hy by ’n privaat hospitaal geopereer kon word. Hy is egter met sy aankoms daar met ’n pulmonêre embolisme (bloedklont in die long) gediagnoseer.

Daar was ook nie ’n bed vir hom in die intensiewe sorgeenheid beskikbaar nie en hy is teruggestuur na die Steve Biko-hospitaal toe.

Hy is daarna vir die bloedklont behandel en het baie met sy suurstofvlakke en ook met ’n long-infeksie gesukkel.

Mediese kenners het die gesin aangeraai om hom nie weer te verskuif vir die operasie nie, en daarom is die operasie in die Steve Biko-hospitaal gedoen.

Pretorius was 21 dae lank in die hospitaal.

Hy sterk tans tuis aan.

Verskeie mediese rekeninge van die privaat hospitaal en Steve Biko moet nog vereffen word en die geld wat goedgunstiglik ingesamel is, sal help om dit te kan doen, het sy familie aan Die Pos gesê.

Steenkamp het intussen besluit om te help om ’n hulpfonds vir beroepsjagters op die been te bring sodat hulle ook gehelp kan word in krisistye. Hy het die Professional Hunters Association of South Africa (Phasa) bedank vir hul onmiddellike hulp.

“Ek en my gesin is oorweldig deur die manier waarop vriende, kennisse, kollegas en familie ons bygestaan en gehelp het. Die Here het ongelooflike mense oor ons pad gestuur. Mag elkeen van hulle net dieselfde seën ontvang,” het Steenkamp gesê. “Ek het soveel dankbaarheid in my hart. Ek weet nie hoe ek vir elkeen dankie kan sê en hoe ek julle kan terugbetaal nie. Die mensdom is beslis nie verlore nie en die goedheid van die Here is oneindig groot.”

Related Articles

Back to top button