Local news

Snotsiekte: boer teken appèl aan

’n Boer, wie se dringende hofaansoek dat sy buurman sy blouwildebeeste moet verwyder deur die hof van die hand gewys is, gaan appèl teen die hofbeslissing aanteken.

Die hooggeregshof in Polokwane het op Donderdag 24 Augustus Ngomo Farming se aansoek met koste van die hand gewys. Dié boerdery net buite Modimolle het verskeie Santa Gertrudis-stoetbeeste weens snotsiekte verloor. Dr. Hennie Nel van Ngomo Farming het die dringende aansoek dat alle blouwildebeeste en buffels verwyder moet word, teen die buurman, Gys Pitzer, gebring. Pitzer het die bekende Castle de Wildt in 2021 gekoop. Die ander respondente in die saak was Hartsplaas (PTY) LTD, Crucial Trade 90 (PTY) LTD en Bernard Groenewald.

Regter GC Muller het in sy uitspraak genoem dat Ngomo Farming se versoek om verligting verstaanbaar is omdat hulle groot skade gely het, maar hy het beslis dat daar nie genoegsame bewyse gelewer is dat die buurplaas se aksies inbreuk maak op hul regte nie. Indien die wildebeeste en buffels verwyder moes word, sal die applikante se sakebedrywighede tot stilstand gebring word, het hy gesê. Hy meen dat stappe soos heinings ’n oplossing sal wees.

Van die redes wat Ngomo Farming in hul appèl aanvoer, is dat Castle de Wildt se jagbedrywighede eers onlangs begin het en slegs ’n gedeelte van hul inkomste behels. Hulle self boer egter reeds sedert 1990 met beeste, wat die plaas se hoofinkomstebron is. Die vorm van die respondent se plaas, bekend as T-plaas, is van so ’n aard dat dit moeilik sou wees om ’n buffersone te probeer vestig.

Sedert Die Pos oor hierdie saak berig gelewer het, is reaksie uit verskeie oorde ontvang en blyk snotsiekte ’n wyer probleem te wees.

Volgens Petrus van Heerden van Thabazimbi, wat op die ombudsraad vir die siekte gedien het, strek die probleem al oor 30 jaar.

Volgens Van Heerden was snotsiekte ’n beheerde siekte in terme van die Wet op Dieresiektes, Wet 35 van 1984 nr. 4002 Vol 255. Geen boer mag wildebeeste aangehou of vervoer het sonder skriftelike toestemming van al sy bure en die boerevereniging in sy gebied nie. Aan die einde van 1993 is daar egter van die voorskrifte teenoor die beheerde dieresiekte geskraap en het dit dus met onmiddellike effek nie meer ’n beheerde status gehad nie. Toestemming was nie meer nodig om dié diere te skuif nie en wildebeeste is daarna regoor die land op plase gevestig.

Volgens Van Heerden vrek alle beeste wat snotsiekte opdoen en is daar tans geen entstof of behandeling nie. Wildebeeste is draers van hierdie vernietigende siekte wat afgeskei word wanneer die wildebeeste onder strestoestande verkeer soos wanneer hulle kalf, speen, aangejaag, gevang of vervoer word.

Die wildebeeste is net draers van die siekte en word nie self siek nie. Vorige hofuitsprake het bevind dat die risiko vir beesboere beperk kan word indien die diere minstens 1 000 m uit mekaar gehou kan word.

Van Heerden glo dat beesboere wel verligting kan kry ingevolge artikel 11.1(a) van Wet 35 van 1984 gelees met artikels 19, 31,32,33 en 34 (wat nie vervang is met enige ander wet nie) wat bepaal dat indien ’n grondeienaar nalatig is om te verhoed dat ’n siekte versprei van sy grond af na sy buurman toe, dit ’n strafregtelike oortreding is.

Omdat dit algemene kennis is dat snotsiekte tot 1 000 m ver kan versprei, hoef die beesboer nie te bewys van watter buurman spesifiek dit afkomstig is nie en hoef die beesboer bloot nalatigheid te bewys (soos dat daar nie ’n buffer was nie) en kan hy al sy wildebeesboer bure gelyk strafregtelik aankla vir nalatigheid as hy skade het weens snotsiekte.

Volgens Van Heerden se artikel kan die beesboer ook die wildebeesboer strafregtelik vir saakbeskadiging aankla.

Hy sien ’n moontlike langertermynoplossing daarin as stappe teen die regering geneem word om regulasie 7(c) terug te trek, wat deur beesboere self finansier moet word omdat georganiseerde landbou dit nie kan of sal doen nie óf die suksesvolle ontwikkeling van ’n entstof, het Van Heerden gesê.

Related Articles

Back to top button