Local news

Hierdie hoendertjies lê hul Paaseiers in September

Die Naboomspruit-tak van die Vroue Landbou-unie het op Dinsdag 12 September ’n gesellige en leersame byeenkoms gehou.

Dié groep vroue is baie aktief en is gretig om inligting oor interessante onderwerpe te verkry en hul gooi hul arms wyd oop vir die talle sprekers wat hulle kom toespreek.

Die VLU-tak van Naboomspruit is vier jaar gelede dormant verklaar weens ’n vermindering in die aantal lede en daarmee saam ook ’n afplatting in deelname aan die organisasie se streeksbedrywighede.

Dit was met hernude ywer dat die bestuur die tak laat herleef het en die ledetal het aansienlik gegroei. Die groep vroue het die afgelope jaar baie nuwe projekte aangepak en hulle onderskei in kompetisies. Die tak is vroeër vanjaar op die streekkongres by die Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela aangewys as die beste tak in die Soetdoringstreek.

Aurocana hoender (Easter Egger). Foto verskaf

Ciska Jooste was die gasspreker by die geselligheid. Die geleentheid is by Suzette Jooste gehou. Sy het haar Aurocana- hoendertjies (ook bekend as Easter Eggers) aan die vroue bekendgestel.

Jooste beskryf haarself as ’n stokperdjieboer met ’n groot liefde vir hierdie eksotiese hoenders van Suid-Amerika wat gekleurde eiertjies lê.

Hierdie “Paaseiers” kom onder meer in verskeie kleure soos blou, rooi, pienk en bruin voor. Dit is egter net die doppe wat gekleurd is. Aan die binnekant is die eiers tradisioneel wit en geel.

Ciska Jooste, Ria Strydom en Wendy Engelbrecht by die VLU-Naboomspruittak se byeenkoms.

“Ons tema vir die dag was landbou. Nie alleen het Ciska vir ons van die hoenders vertel nie, maar ons is geleer hoe om gepiekelde groente in te lê,” het Wendy Engelbrecht, voorsitter van die tak, gesê.

Louise Groenewald, vorige voorsitter, het vertel hoe om boontjies en ertjies suksesvol te plant en te laat floreer in ’n dorpstuin, Ria Strydom, presidente van VLU Noord, het goeie riglyne gegee met die ontwerp van ’n bannier vir die tak. Sy het ook lede van dié tak se ontwerpe beoordeel.

Belangstellendes wat wil kennis maak met die VLU kan gerus die skakelpersoon, Debbie Weideman by tel: 082 775 6468 bel of die voorsitter, Wendy Engelbrecht, by tel. 074 893 9618.

Related Articles

Back to top button