Local news

Titelaktes wink hopelik gou vir inwoners

Inwoners van HideAway Estate, ’n ontwikkeling op die Eersbewoond-pad buite Bela-Bela, is verlig om te hoor dat daar vordering is om die titelaktes van hul erwe te kry.

Dit is nadat hulle jare lank bekommerd was oor hul verblyfreg en of hulle in staat sal wees om hul huise te verkoop. Die probleem het ontstaan nadat inwoners, wat sedert 2011 grond in die vakansieoord gekoop het, besef het dat dit steeds as landbougrond gesoneer is en hulle dit nie sal kan verkoop nie.

Die eienaar van Hide Away Estate, Philip van den Heever, het onlangs in ’n brief aan inwoners bevestig dat ’n hooggeregshofbevel op Dinsdag 13 Junie vanjaar uitgereik is wat die sonering van landbou na spesiale grond bevestig, ná ’n dispuut daaroor. Hy het geskryf dat daar in 2018 aansoek gedoen is omdie grond te hersoneer. Dit is reeds toe bevestig dat die grond gebruik sal word om ’n privaat oord te ontwikkel. Dit is volgens hom eensydig deur die Bela-Bela-munisipaliteit teruggetrek.

Van den Heever het aan Die Pos bevestig dat hulle besig is met dorpstigting.

“Ons hoop dat ons dorpstigting teen vroeg aanstaande jaar kan afhandel en voltitelaktes beskikbaar kan maak aan diegene wat reeds gekoop het en ook aan nuwe kopers,” het hy gesê.

Ingevolge die hofbevel is hulle by magte om 100 residensiële erwe uit te lê. Daar is tans net meer as 70 wooneenhede.

“Die bevel bevestig ook van ons ander regte as ’n oord. Ons is besig met uitbreidings waar nuwe swembaddens gebou word en ons vergroot ons huidige restaurant en kroeg. ’n Winkel word vir die nabye toekoms beoog sodat inwoners nie nodig het om vir alles dorp toe te ry nie,” het hy gesê.

Volgens een van die inwoners, Japie Ferreira, is die meeste van die inwoners pensionarisse en veroorsaak die twyfel oor hul verblyfreg groot bekommernis.

“Baie van die inwoners het hul laaste geld bestee om hier te koop.”

Die Pos het in 2019 berig dat hofsake gevolg het toe inwoners besef het dat daar probleme met die sonering was en dat howe in Bela-Bela en Modimolle van die koopkontrakte nietig verklaar het en die geld terugbetaal moes word.

Related Articles

Back to top button