Local news

Waterberg se lof besing op Erfenisdag

Erfenisdag word op Maandag 24 September landwyd gevier. Alle Suid-Afrikaners kry dan die geleentheid om hul herkoms, kultuur, gelowe en tradisies te herdenk.

Drie van Die Pos se lesers vertel waarom die bewaring van die Waterberg se erfenisskatte vir hulle so belangrik is.

Mauritz Hansen, historikus van Modimolle.

Die Waterberg Bosveld is die wêreld wat Eugène N. Marais beskryf as:

“Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend’ hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;
Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal.”

Dit is die wêreld volgens Klasie Wessels waar buffelgras hoog rank en ruie sekelbos groei. Dit is waar rooi Afrikaners reguitnek die saad loop en pluk. Dit is ’n wêreld vol waaiende somerbome, vol singende voëls. Ja, dit is die wêreld aan die voetheuwels van die Waterberg en aan die soom van die Springbokvlakte.

Dit is waar die boekenhout, maroela, die soetdoring en die wag-’n-bietjie groei en die Bosveldbruid en die lekkerruikpeul blom. Die Waterberg is ’n voëlkykersparadys, die Nylsvley is ’n wêreld-erfenisgebied. Die Waterberg is ’n wildlewe-mekka. Daar is talle jagplase en wildreservate. Die Kransberg, die Sandrivierpoortberg, Middelberg, Hoekberg, Swaarshoekberg, Moepelberg en die

Hanglipgebergtes is alles deel van die Waterberg.

Die belangrikste riviere in die Waterberg is die Matlabas, die Mogol en die Nyl wat later die Mogalakwena word. Daar is ook die Palala. Daar is geen groot riviere nie, maar as dit gereën het, is dit een bruisende massa water. Hierdie gebied is ons trotse erfenis.

Eugène N. Marais het gesê:

“O Land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van U hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.”

Johan van Niekerk, voorsitter van Bela-Bela Heritage-organisasie.

Hoewel 24 September in Suid-Afrika bekend staan as nasionale Erfenisdag, verwys die meeste Suid-Afrikaners spottenderwys ook daarna as nasionale Braaidag. Daar lê veel meer agter hierdie vakansiedag as net ’n samekoms van vriende en lekker kuier om ’n braaivleisvuur.

Suid-Afrika is ’n land van talle kulture, 12 amptelike tale (saam met Gebaretaal), nege diverse provinsies en ’n bevolking van nagenoeg 50 miljoen mense. Ons staan internasionaal bekend as die “Reënboog-nasie”, maar hoeveel van ons ryk kulturele erfenis kry werklik blootstelling? Hoeveel weet jy van die Bapedi-kultuur? Wat weet jy van Koning Mselekatse?

Wie ken die verhaal van Christina Pretorius? Hoeveel Suid-Afrikaners het al gehoor van Coenraad de Buys of die antieke tinmyne op Rooiberg wat moontlik reeds ongeveer 900 jaar gelede in gebruik was?

Bogenoemde is ’n lys wat uniek is aan die Waterberg, maar inderdaad ook van nasionale kulturele belang is. Dit was my idee met die stigting van Bela-Bela Heritage-organisiasie om ons diverse kulturele erfenis te identifiseer, te boekstaaf en aan almal oor te dra. Nie net wil ek Waterbergers attent maak op hulle unieke plek in ons land se geskiedenis nie, maar ek wil hierdie erfenis ook wyd en suid deel sodat mense juis na ons dorp en ons omgewing sal reis om die erfenis te kom beleef.

Bela-Bela en die Waterberg bied besoekers soveel meer as warm mineraalwater en die groot vyf in een van ons pragtige reservate. Daarom het die Bela Bela Heritage ten doel om ons erfenis te bevorder vir elkeen wat hier woon, of hierheen wil reis, sodat nasionale Erfenisdag elke dag van die jaar gevier sal word en nie net op 24 September nie.

Vir my bestaan daar nie iets soos “my” erfenis en “jou” erfenis of “hulle” erfenis nie. Alles in hierdie land is “ons” erfenis. Sonder die bydrae van ons almal se voorouers, en die pad wat die geskiedenis met hulle geloop het, sou nie een van ons vandag gewees het waar ons is nie.

Eers as ons dit besef, sal ons werklik daarop kan roem dat ons ’n volwaardige Reënboog-nasie is … en dan kan ons dalk elkeen iets van ons ryk erfenis deel met ons vriende as ons heerlik om ’n vuur staan en kuier op nasionale Braaidag.

Of jy nou braai of shisa nyama, of ukosa …dit bly ook tog deel van ons ryk kultuur erfenis.

Johann Lodewyk Marais, historikus en skrywer van die Departement Historiese- en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria.

Die soms ylbewoonde en dikwels asemrowende Waterberg is ’n geskakeerde landbougebied en ’n gewilde toeristebestemming, terwyl minerale soos yster, tin en steenkool ook tot die ekonomie bydra.

Dit bied ’n gevestigde ekonomie, natuurreservate en ander bewaringsgebiede, gholfbane, geleenthede vir voëlkykers, ’n besige deurpad as lewensaar na en van buurlande en ’n leeftog vir sowel groot- as kleinboere. Mense uit verskillende kulturele agtergronde speel ’n rol in en dra by tot die erfenis wat hier neerslag vind en waarvan die mense die rentmeesters is.

Ek sou graag wou sien dat Erfenisdag daartoe sal bydra om mense die rol en betekenis van ’n streek soos die Waterberg beter te laat verstaan. Dit kan help om die vervreemding wat talle mense in hulle omgewings weens uitdagings soos swak dienslewering, agteruitgaande infrastuktuur, ’n gebrek aan werkgeleenthede en onveiligheid teë te werk.

Ons pogings behoort aan te sluit by die versugting wat toenemend in Suid-Afrika buite die huidige politieke skaakmat gehoor word, naamlik dat al die burgers van die land die reg op iets beters het as wat ons tot dusver beleef.

Die kiem en genetika vir hierdie “iets beters” is opgesluit in ons bestaande erfenis en die nuwe innovasies en oorlewingstrategieë wat ons oplewer en deel van ons erfenis maak.

Related Articles

Back to top button