Local news

Rooilip sorg vir groot skrik by hospitaal

"Ek gee nie om watse kleur lippe die slang het nie, hy moet dit verwyder!"

’n Rooilipslang het vir groot konsternasie gesorg toe hy homself in die apteek by die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle tuisgemaak het.

Soos wat dit warmer word, is slange meer aktief en verskeie inwoners moes die afgelope week bont staan toe hulle deur slang-se-kind verras is.

Rosa Pyper, wat by die apteek werk, sê sy het op Donderdagoggend 7 September pas die apteek se deur oopgesluit en wou instap, toe sy die slang in ’n spiraal opgekrul op die grond sien lê.

Theuns Victor met die rooilipslang in sy hand.

“Ek het my boeglam geskrik en baie hard geskree. Ek dink die slang het net so groot geskrik as wat ek het!”

Pyper het dadelik vir slangvanger Theunis Victor gebel om plan met die slang te maak.

Theunis het die slang opgespoor waar dit agter ’n plaat naby die deur geskuil het.

“Toe ek sien dit is ’n rooilipslangetjie, het ek dit gevang en vir die personeel gewys hoe dit lyk,” het hy gesê.

Rosa vertel laggend dat sy so lam van die skok was dat sy glad nie belang gestel het nie.

“Ek het vir Theunis gesê ek gee nie om watse kleur lippe die slang het nie, hy moet dit verwyder!”

Die rooilipslang, in Engels bekend as ’n “herald snake”, beweeg meestal snags rond en word veral naby water gesien. Dit vang paddas en kan tot ’n meter lank word. Die slang is nie baie giftig nie en is skadeloos vir mens en dier, het Theunis gesê. Hy het Sondag ook ’n Mosambiekse spoegkobra uit kantore buite die dorp verwyder.

“Met die warmer temperature begin slange meer aktief raak en is op soek na kos en water. Baie slange vervel ná die winter en begin paar. Om die gevaar van slange op jou erf te verminder, moet inwoners hul erwe skoon hou. Struike en bome wat na aan die woning se vensters is, moet kort gesnoei word,” is sy raad.

“Swartsakke, bourommel en tuinvullis bied skuiling vir rotte en muise wat slange lok. Slange is maar oral en sal rondbeweeg agter kos aan.”

Hy sê mense moet ag slaan op voëls wat raas en katte en honde wat vreemd optree. Hy waarsku mense om nie self te probeer om slange te vang nie omdat ’n mens jou maklik misgis met hul ratsheid.

“Hou diere en kinders ver weg van die slang af. As ’n dier gebyt word, probeer eienskappe van die slang onthou om aan die veearts te gee vir behandeling. Mense wat gebyt word, moet dadelik mediese hulp kry.”

Related Articles

Back to top button