CrimeLocal news

Laaste twee Boeremaglede vry

"Ons wil nou net aangaan met ons lewens. Dit is al wat nou belangrik is."

Die laaste van die 19 Boeremaglede wat in Oktober 2013 gevonnis en tronk toe gestuur is op aanklagte van onder meer hoogverraad, strafbare mansslag en sameswering tot moord is vry.

Die Pos het vandeesweek bevestiging gekry dat Herman van Rooyen en Rudi Gouws ná 22 jaar agter die tralies met streng voorwaardes op parool vrygelaat is. Gouws is op Dinsdag 29 Augustus vrygelaat en Van Rooyen op Donderdag 31 Augustus. Albei die mans woon en werk in die Bela-Bela-omgewing.

Die mans se families het ’n spreekwoordelike laer om hulle getrek en verkies om nie amptelik met die media te gesels nie, hoewel verskeie mense aan Die Pos bevestig het dat die mans vrygelaat is en dat dit goed gaan met hulle.

Herman van Rooyen saam met sy ma, Marie. Sy pa, Gerald, is oorlede terwyl Herman in aanhouding was. Foto verskaf

“Hulle het hul straf uitgedien en vind nog hulle voete in die samelewing. Ons is oneindig dankbaar dat hulle tuis is, maar wil nie amptelik met die media gesels nie. Ons is ontsettend dankbaar teenoor almal wat ons ondersteun het, maar ons wil nou net aangaan met ons lewens. Dit is al wat nou belangrik is,” het ’n nabye kennis van een van die mans hoflik aan Die Pos gesê.

Die 19 Boeremaglede is destyds in die Noord-Gautengse Hoogeregshof gevonnis ná ’n maratonhofsaak van meer as ’n dekade. Al die mans is skuldig bevind aan hoogverraad en vyf van hulle ook aan strafbare mansslag en sameswering om moord te pleeg. Die saak het die belastingbetaler ná beraming sowat R36 miljoen gekos.

Rudi Gouws saam met sy sussie, Sunita. Foto verskaf

Die groep, wat aanvanklik uit 22 mans bestaan het, is in Desember 2002 in Limpopo in hegtenis geneem toe die polisie hulle verbind het met ’n komplot om die destydse president, Nelson Mandela, om die lewe te bring.

Van Rooyen en Gouws het in Mei 2006 uit aanhouding ontsnap terwyl die verhoor aan die gang was. Regter Eben Jordaan het toe beslis dat die verhoor voortgesit moet word in hul afwesigheid.

Die twee is in Januarie 2007 vasgetrek en het daarna op bykomende aanklagte van ontsnapping en die onwettige besit van vuurwapens verskyn. Die boer op wie se grond hulle geskuil het, is daarna ook tot tronkstraf gevonnis nadat die hof bevind het dat hy geweet het waar die twee hulle bevind het tydens hul ontsnapping. Hy is ook intussen vrygelaat.

Van Rooyen en Gouws is destyds tot 35 jaar tronkstraf gevonnis waarvan tien jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Die Pos het oor die jare verskeie kere berig oor die saak en ook onderhoude gevoer met van die mans se familielede en geliefdes wat vertel het hoe hul lewens handomkeer veran-
der het nadat die mans aangekeer is.

Van Rooyen het sy tyd nuttig in aanhouding gebruik en ’n meestersgraad in politieke wetenskap en filosofie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal.

Related Articles

Back to top button