Local news

Kyk liefs vorentoe, hoor boere

‘Landbou is die enigste sektor in die land wat groei toon en het die afgelope vyf jaar met 18% gestyg. Dit gaan nie sleg met boere nie.’

Fokus op die toekoms en bly positief.

Die Doornfontein-boerevereniging buite Modimolle het op Donderdag 7 September ’n boeredag aangebied met twee gerekende sprekers in landboukringe wat hul insigte oor die toekoms van landbou met boere gedeel het.

Die ekonoom prof. Johan Willemse en landboubestuurspesialis dr. Jaco de Villiers was dit eens dat hoewel toestande nie altyd gunstig lyk nie, boere in ’n goeie posisie is, maar dat deeglike beplanning van kardinale belang is.

Willemse het gesels oor innoverende denke in die huidige landbou-omstandighede.

“Sluit aan by ’n boere-vereniging. ’n Mens kan nie alleen boer nie en het dikwels hulp met inligting en ondersteuning nodig,” het hy gesê.

Landbou is die enigste sektor in die land wat groei toon en het die afgelope vyf jaar met 18% gestyg.

“Dit gaan nie sleg met boere nie,” het hy gesê.

Die wêreld is tans geopolities onstabiel en Europa het hul warmste somer ooit beleef. In Suid-Afrika is daar talle uitdagings soos die ekonomie wat in die moeilikheid is, infrastruktuur wat verbrokkel, misdaad wat toeneem en sosialistiese en rasgedrewe beleide van die staat wat boere kan beïnvloed.

Die rand is op hierdie stadium baie swak, wat in die guns tel van boere wat produkte uitvoer.

“Boere moet dink hoe hulle hierdie tot hul voordeel kan gebruik,” het hy gesê. “Tot 50% van landbou se inkomste kom vanuit uitvoere, want ons binnelandse mark is klein.”

Hy moedig boere aan om seker te maak dat daar ’n mark vir hul produkte is. Hulle moet ook beplan om die El Niño-weerverskynsel wat moontlik goeie reën vroeg in die sei-
soen sal bring, maar later in die seisoen word minder reën verwag.

Uitvoermarkte, wat moontlik kan uitbrei danksy nuwe Brics-lede, kan groter inkomste vir boere skep.

“Besef julle dat een vragskiphouer met gevriesde vleis die ekwivalent van 32 interlink-vragmotors is?” “Boere móét ’n sakeplan in plek hê — dit is waarby jy die volgende drie jaar moet hou. Tweedens moet jou kontantvloei geredelik beskikbaar en op datum wees — begrote kontantvloei teenoor die werklike. Begroot ook vir swakker pryse. As jy probleme het, praat vroegtydig met die bank, moenie wag totdat dit te laat is nie. Verstaan die siklusse wat markte het met pryse wat styg en daal.”

Hy moedig boere aan om geld weg te sit omdat daar moeilike jare voorlê en om na versekeringsfondse te kyk. “’n Land Cruiser is nie ’n reserwefonds nie.”

Henk van de Graaff, TLU Noordstreek-voorsitter, het boere aangemoedig om ’n paradigma kopskuif te maak. “Wees bewus van wat die regering doen, maar fokus op dit wat jy doen.” Hy sê dat bure mekaar meer sal moet ondersteun.

De Villiers het gesels oor die huidige wêreldtoestande met Rusland en Oekraïene en oor die belangrikheid dat boere hul maatreëls vir bio-sekuriteit en naspeurbaarheid van hul vee vroegtydig in plek moet hê as hul wil uitvoer.

“Daar is verlede jaar vroeg gewaarsku dat bek-en-klouseer die Vrystaat sal tref, maar daar is min gedoen om dit te keer en boere het miljoene rande skade gely. Bio-sekuriteit en naspeurbaarheid is afgeskeep en dit is hoekom dit so hard getref het.”

Boere moet kompartemente (selle) skep waarbinne hulle na hul vee se kuddeweerbaarheid en naspeurbaarheid kyk. Voerkrale sal met ’n oop gemoed en met gerusstelling vee aankoop by boere wat hul kuddes kan naspeur.

“Ek sal graag wil sien dat landbou ook as ’n veilige hawe vir beleggings gesien moet word. As jy voel dat landbou-ondernemings buitensporige winste verhaal, belê dan in hul onderneming en deel daarin. “Landbou oorleef altyd politiek — ’n mens sien dit wêreldwyd.”

Hy ag dit belangrik dat boere weer voerbanke op die been bring vir tye van droogte sodat dit nie nodig is om vir hulp van die regering te vra as die krisis voorkom kon word deur goeie beplanning.

Related Articles

Back to top button