EntertainmentLocal news

Kom vier vanjaar braaidag saam met Adam Tas en kie

Min dinge spel somer so duidelik as ’n lekker kuier saam met vriende en ’n vleisie op die vuur vir nasionale braaidag.

Bring vanjaar dié dag (wat op Saterdag 23 September gevier word) saam met die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) en bekende sanger Adam Tas by die AWA-veilingskrale in Vaalwater deur. Terselfdertyd kan gaste die Springbokke ondersteun wanneer hulle kragte meet in ’n bepalende wedstryd teen die span van Ierland in die rugby-wêreldbeker.

Die Phasa Foundation is ’n nie-winsgewende organisasie wat geld insamel vir navorsing, bewaring en liefdadigheidsorganisasies. Hulle is baie betrokke in Modimolle en vra inwoners om hulle geldinsamelingsprojekte te ondersteun sodat hulle op meer plekke kan help.

Hulle borg die afgelope twee jaar die reiskoste van die busse wat die inwoners van die Abraham Kriel-kinderhuis jaarliks see toe neem en borg ook elke jaar ’n leerder by die Sonstraal Skool vir Buitengewone Onderwys en skenk gereeld vleis aan die kinderhuis. Hulle het ook vanjaar betrokke geraak by die Ons Hoop-ouetehuis in Modimolle.

Tydens die braaidag kan besoekers reeds van 09:00 die uitstallers se ware bekyk en smul aan lekker eetgoed wat te koop sal wees. Daar vind ’n wildsveiling om 11:00 plaas. Phasa se jaarlikse veiling begin om 18:00 en daarna sal Adam Tas die gaste bekoor met sy diep fluweelstem met treffers soos Reën en Die Gelofte.

Vir meer inligting, kontak Phasa se voorsitter, Ilse Joubert, per e-pos by: chairperson@phasa.co.za(.) Besprekings kan gemaak word op hul webwerf by www.phasafoundation.co.za/braai-day/(.)
Phasa bied op Vrydag 27 Oktober ’n gholfdag by die Koro Creek-gholfklub in Modimolle aan. Registrasie vind vanaf 08:00 plaas en die spel begin om 10:00.

Dit word in ’n vierbal-alliansie-formaat gespeel. Vir meer inligting, bel vir Paul Els, ondervoorsitter, by tel. 082 739 8445. Inskrywings kan ook op die webwerf gedoen word by www.phasafoundation.co.za/golf-day/(.)

Related Articles

Back to top button