CrimeLocal news

Karwagte kry erkenning vir goeie werk

Min mense besef watter belangrike rol die karwagte in Bela-Bela speel.

Hulle pas nie net voertuie op nie, maar is ook die oë en ore op die grond wat help om inligting deur te gee sodat verdagtes vasgetrek kan word.

George Loock bestuur die 27 karwagte wat daagliks diens doen in die parkeerarea voor SUPERSPAR, asook Eskort en voor Van Heerden Apteek.

Hy vertel die maatskappy waarvoor hy voorheen gewerk het, het toegemaak toe die Covid-19-pandemie die land getref het. Hy het toe ontplooiingsbestuurder van die karwagte geword en sedertdien geniet hy sy werk terdeë.

George Loock wat die karwagte in Bela-Bela bestuur is hier saam met Cobra en Annémarie Pretorius van die National Crime Investigation Services (NCIS).

“Die wagte kom soggens byeen en gaan werk dan by die onderskeie parkeerareas volgens die winkelure. Elkeen hou die fooitjies wat hulle verdien. Nuwe wagte kry opleiding en word met ’n baadjie toegerus.”

Loock vertel die karwagte sorg nie net dat voertuie veilig is terwyl die eienaars inkopies doen nie, hulle moet dikwels die verkeer reguleer en is ook soos speurders op die grond wat ’n belangrike inligtingsdiens lewer.

Hierdie karwagte het silwer sertifikate ontvang vir hul harde werk en lojaliteit.

“Ons beplan om in die toekoms die wagte op te lei in noodhulp sodat hulle bystand kan verleen in noodsituasies.”


Lukas van Nispen: Ek werk die afgelope drie maande as ’n karwag in die parkeergebied voor Eskort. My vorige werk was in ’n laboratorium en nou geniet ek die buitelug en die mense.’n Mens is langure op jou voete, maar jy bly gelukkig en aan die beweeg.
Junette Rosin: Ek is nou vir byna ’n jaar ’n karwag en geniet dit om elke dag met mense te werk. Ek verdien tot so R150 per dag met die fooi-
tjies wat mense my betaal om na hul voertuie te kyk. Die grootste fooi wat ek nog verdien het om ’n motor op te pas, was ’n R100. My man kan nie werk nie en ons het twee seuns. Die geld bied dus ’n welkome uitkoms.

Die karwagte is verlede week deur die maatskappy Streeteyes beloon met sertifikate vir hul onbaatsugtige werk in die gemeenskap. Loock sê Streeteyes het karwagte in 75 dorpe landwyd.

Cobra (hy verkies sy skuilnaam) en Annémarie Pretorius van die WhattsApp-groep National Crime Investigation Services (NCIS) werk nou saam met die karwagte.

Hulle vertel aan Die Pos die wagte rapporteer verdagte voertuie of mense op die groep. Hulle volg dan die inligting verder op saam met die nodige veiligheidstrukture wat die polisie, buurtwagte en nooddienste insluit.

Die NCIS staan Streeteyes by waar verdagte inligting deurgegee word of dit nou gesteelde voertuie is, kontant in transito-voorvalle, kitsbank-aanvalle of motorkapings is.

Inwoners is ook welkom om by die angstoepassing aan te sluit by www.galaxynova.co.za

Related Articles

Back to top button