Local news

Boere ly erge skade ná veldbrande

Warm en droë toestande, saam met droë veld, het die vlamme vinnig laat versprei.

’n Groot veldbrand wat in die omgewing van die De Nyl Zyn Oog-grondpad tussen Modimolle en Bela-Bela ontstaan het, het honderde hektaar weiding verwoes.

Die brand het glo op Sondagmiddag 10 September ontstaan en langer as 19 ure gewoed voordat die laaste vlamme geblus is. Warm en droë toestande, saam met droë veld, het die vlamme vinnig laat versprei.

Teen Maandagoggend het die vlamme handuit geruk weens lang gras en groot bome langs die Groot Nylrivier. Daar het ook die oggend ’n sterk wind opgesteek wat die vlamme aangejaag het. Die vlamme het oor die R101-pad gespring en het tot teen die berg na die Sussenvale-hoewes versprei.

Pierre Jacobs van die Pontenilo-melkplaas hou die vlamme teen die rivier met kommer dop.

Die hoë bome langs die rivier het die vlamme meters hoog laat klim en die wind het smeulende plantmateriaal rondgewaai wat brande elders laat ontstaan het. Daarna het die vlamme ook oor die R101-teerpad gespring.

Baie van die boere, insluitend die Pontenilo-melkplaas, het groot dele van hul weiding verloor. Volgens boere in die omgewing het die vlamme naby aan baie van die huise gekom, maar is gekeer voordat dit skade kon aanrig. ’n Voertuig het by ’n huis, wie se eienaars nie tuis was nie, teenaan die R101-pad uitgebrand. Brandbestryders kon keer dat die brand na Verloren toe versprei.

’n Motor wat by ’n huis langs die R101-pad gestaan het, het uitgebrand. Foto: Working on Fire

Die laaste vlamme is teen Maandagaand net ná 23:00 geblus met vuurslaners wat op die uitkyk gebly het vir smeulende stompe.

“Dit is danksy groot steun uit die gemeenskap dat ons die brand kon keer voordat dit heeltemal handuit geruk het,” het Jaco Bogaards, wat in die omgewing boer, gesê.

Volgens die brandbestrydingsvereniging (BBV) het meer as 80 privaat voertuie en 150 vuurslaners gewerk om die vlamme te tem. Working on Fire (WoF) se spanne van Modimolle, Leseding en Sondela het ook ingespring om te help.

Mariëtte Nicholson van die BBV het gesê hulle het vanjaar meer brande as verlede jaar gehad.

Honderde hektare se weiding is verwoes. Brandbestryders het deurnag gestoei om die vlamme te blus. Foto: Theunis Kruger

“Die laaste twee dae was die brandgevaar-indeks baie hoog en veral die windspoed het omstandighede gunstig gemaak vir wegholveldbrande.”

Dinsdag en Woensdag het gelukkig koeler weer gebring.

Volgens Ofentse Letswalo van WoF het hul spanne agt uur lank vuur geslaan. Hul werk is bemoeilik deur die bergagtige terrein en die onvoorspelbare toestande wat die vlamme aangehits het.

Related Articles

Back to top button