Local news

Hulp gevra vir kleuter met leukemie

"Die dokter het gedink dit is pampoentjies, maar hy wou nie gesond word nie."

’n Tweejarige seuntjie van Modimolle is tans in die hospitaal nadat hy met B-akute limfoblastiese leukemie (B-ALL) gediagnoseer is.

Drie verskillende dokters het vir Gavin van Kasterop eers met pampoentjies, klierinfeksie en daarna met mangelontsteking gediagnoseer voordat daar besef is dat dit leukemie is. B-ALL beïnvloed pasiënte se bloed en beenmurg en is die mees algemene akute limfoblastiese leukemie.

“Die eerste tekens dat iets fout was, was toe ons op 17 Mei vanjaar ’n knoppie op sy kakebeen naby sy oor opgemerk het. Die dokter het gedink dit is pampoentjies, maar ná drie weke is ons na ’n ander dokter toe, want hy het nie gesond geword nie,” het sy ouma, Anita van Kasterop, gesê.

Klein Gavin van Kasterop.

Gavin se ouers is Gavin Brand en Marelize van Kasterop.

Die vierde dokter wat hulle besoek het, het hulle vir ’n dringende pediatriese ondersoek verwys. Die pediater het gevind dat Gavin se lewer en milt vergroot is en het hom dadelik na die Polokwane provinsiale hospitaal gestuur omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie.

Ná verskeie toetse, bloedoortappings en chemosessies, sterk Gavin steeds aan in die hospitaal. Sy chemosessies is die afgelope week tydelik gestaak omdat sy immuniteit laag is. Sy ma bly by hom in die hospitaal en ouma Anita bly in ’n woonstel wat ’n werknemer by die hospitaal goedgunstiglik vir haar beskikbaar gestel het.

“Sy aptyt is baie swak en ek neem maar daagliks kos of lekkernye waarvoor hy lus is,” het sy gesê.

Gavin van Kasterop in die hospitaal.

Anita en Marelize bestuur saam Anita’s Auto Shine Mobile in Modimolle.

“Omdat ons nou by die hospitaal moet wees, is ons onderneming egter toe. My man help waar hy kan,” het Anita gesê.

“Ons het groot waardering vir almal wat ons ondersteun en fondsinsamelingsprojekte hou. Ons sou nie alleen hierdeur kon kom as dit nie vir die wonderlike mense was nie,” het Anita gesê.

Verskeie fondsinsamelings-projekte is begin om Gavin se mediese onkostes te help dek.

Lesers wat wil help, kan vir Anita bel by tel. 083 465 1095 of vir Marelize by tel. 083 974 0595.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button