Local news

Gesin vra hulp ná fratsongeluk

Hy het reg agteroor geval. Sy heup is morsaf.

’n Fratsongeluk het veroorsaak dat ’n geliefde inwoner van Mookgophong ernstig beseer is en dringend mediese behandeling benodig.

Gerhard Steenkamp, ’n jagter van beroep, is verlede Vrydag ernstig beseer toe hy van sy bakkie geklim en die trappie misgegetrap het. Hy het agteroor geval en sy heup gebreek.

Sy dogter, Corietha Müller, vertel haar pa het pas ’n hidroliese stelsel vir jagkursusse op sy bakkie aangebring toe die ongeluk gebeur het.

“Hy het met die afklim die trappie misgetrap en reg agteroor geval. Sy heup is morsaf. Sedert die voorval is ons in ’n nagmerrie-stryd om hom te probeer help. Hy moet dringend ’n operasie kry, maar behoort nie aan ’n mediesefonds nie.”

Corietha se ma, Marietjie, is ’n onderwyseres en ook Die Pos se vryskutverslaggewer in Mookgophong.

Corietha vertel haar pa is ná die ongeluk na Modimolle vervoer vir X-strale, maar daar kon dit weens beurtkrag nie geneem word nie. Hy is toe na Bela-Bela vervoer. Die X-strale het getoon dat hy dringend ’n heupvervangingsoperasie moet ondergaan.

“Hy is eers per ambulans na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria en toe na die Wilgers-hospitaal oorgeplaas. My pa is ’n diabeet en het asemhalingsprobleme ondervind. Sy suurstofvlakke is laag en hulle moes sy hart stabiliseer. Daar is met ’n skandering vasgestel hy het ’n bloedklont in sy een long ontwikkel.”

Volgens Corietha was daar nie ’n bed in die Wilgers-hospitaal se intensiewe sorgeenheid beskikbaar nie en moes haar pa Dinsdag teruggeskuif word na die Steve Biko-hospitaal. Sy suikertelling is hoog en sy suurstofvlak is laag.Die gesin doen alles in hul vermoë om hom te skuif na ’n privaat hospitaal sodat hy geopereer kan word.

Die familie het intussen begin om geld in te samel met ’n BackaBuddy-aanlynveldtog om te kyk of hulle genoeg geld kan bymekaar maak om die mediese onkoste en operasie te dek.

“Ons is innig dankbaar vir almal wat tot dusver bygedra en gehelp het. Ons het die geld broodnodig dat my pa geopereer kan word.”

Related Articles

Back to top button