Die Pos het 18 maande gelede in ons uitgawe 4 Februarie-uitgawe 2022 drie bladsye vol foto’s geplaas van diensleweringsprobleme wat herhaaldelik (sommiges daarvan jare lank al) in Bela-Bela aangemeld word.
Ons het die foto’s aan Kabelo Mosito, toe die munisipale woordvoerder, getoon en hy het hart en mond aan ons joernalis, Andries van der Heyde, beloof dat hy dié probleme “met sy afdelingshoof sal opneem”.
Kabelo het hom intussen by die Waterberg-distriksmunisipaliteit aangesluit en Andries het die dorp se nuwe DA-raadslid geword.
Die Pos wou vandeesweek by hóm hoor: Wat het geword van al hierdie probleme?
Volgens Andries is ’n hele paar van die destydse probleme intussen herstel, maar hy het onderneem om seker te maak dat hierdie klagtes wéér onder die munisipaliteit se aandag gebring word. Hy het inwoners aangemoedig om aan te hou om hierdie sake aan te meld.
Die Pos het vir Andries van der Heyde, Bela-Bela se nuwe DA-raadslid, gepols oor hoekom daar nog steeds soveel onopgeloste munisipale struktuurprobleme in die dorp is. Hier is sy antwoord:
“Ek het reeds met George Ramagaga, munisipale bestuurder, gepraat oor die haglike toestand waarin die dorp se straatligte verkeer. Volgens hom wag hulle op die nodige komponente om die straatligte te herstel. Thabang Khotsokoane (waarnemende hoof van tegniese dienste) en Thomas Pilane (hoof oor paaie en stormwater) het gesê “prosesse” is aan die gang gesit om sekere kragbokse in die dorp te vervang. Pilane het ook aangedui dat hulle aandag sal gee aan van die probleme met stormwaterinfrastruktuur. Jimmy Moloto (hoof oor die dorp se riool en watersake) se afdeling is baie aktief en reageer op die meeste klagtes. Daar is sover my kennis strek steeds ’n tekort aan bekwame werkers en toerusting om sekere take uit te voer. Die munisipaliteit wag ook op die finalisering van die nuwe vlootkontrak.”
Met dié kommentaar ingedagte het Die Pos self ’n draai deur die dorp gaan ry om te kyk wat geword het van die plekke waar ons 18 maande gelede hierdie foto’s geneem het: