Local news

Afrikaans vloei sterk in haar are

Dit is wanneer dit stil word in haar padstal Ietsi-van-Als Curios net buite Modimolle dat Anzé Bezuidenhout haar skootrekenaar nader trek en haar voel, dink en droom begin neerlê.

Haar liefde vir digkuns strek sy lang arms regoor die land met haar INK Skryf in Afrikaans-webwerf wat jaar na jaar groei in gewildheid. Die webwerf is gestig as ’n sosiale bymekaarkomplek vir skrywers, maar het gou ontwikkel in ’n bron en slypsteen vir aspirantdigters en -skrywers. Dit bied ook ’n biblioteek van skryfkuns met werk van ou bekende skrywers en digters wat beskikbaar is, asook ’n elektroniese FAK, liegstories, jagstories, kinderliedjies en slaaptydstories.

Anzé het haar eerste album in 2013 self gepubliseer en het sedertdien reeds 11 bundels uitgegee, waarvan een reeds in sy vierde druk is.

“My liefde vir taal kom reeds van moederskoot af, maar ek was maar stil daaroor. Vir baie jare het my man en kinders nie eens geweet dat ek skryf nie. Ek het dit stil gehou, want dikwels is dit mens se eie, naakte self wat jy so op papier neersit. Skryf is mos maar huil op papier,” het sy vertel. Die gedigte het die een na die ander uit haar pen gevloei en sy het besluit om haar eerste bundel uit te gee. “As ek so terugkyk na my eerste bundels kan ek sien hoe my werk gegroei en verbeter het.”

Sy het reeds verskeie pryse vir haar werk verower en was onder meer naaswenner in die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans se digkompetisie en het die TT Cloete-prys vir haar gedig: “Gebars tot Volmaaktheid” gewen.

Anzé het besef dat daar min blootstelling vir Afrikaanse skrywers is met baie gedigte en stories wat nooit deur ander mense gelees word nie. Sy het besluit om INK, Skryf in Afrikaans (www.ink.co.za) op die been te bring. Benewens die opleidingsmateriaal wat beskikbaar is, is daar maandeliks projekte wat die skrywers aanpak met ’n onafhanklike moderator wat leiding gee.

INK gee jaarliks bundels uit en hou elke jaar in November ’n glansryke gala-aand vir sowat 300 mense waar daar erkenning aan digters en skrywers gegee word. Daar is ook ’n jeug-afdeling vir jong skrywers. Die jaarlikse kompetisie het vanjaar meer as 1500 inskrywings gelok.

Anzé en haar man, Willie, woon op ’n plaas sowat 20 km buite die dorp op die Springbokvlakte.

“Ek is maar ’n plaasmeisie in my hart,” lag sy.

Haar winkel, wat sy reeds 23 jaar lank bedryf, is volgepak met kreatiewe kunswerke van ander mense. Dit is net hier, gemaklik agter haar skootrekenaar, waar sy haar beste skryfwerk lewer, het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button