Local news

Bestuurder sterf ná vragmotor omslaan

Die bestuurder van ’n vragmotor is oorlede nadat sy voertuig by die Klein Sandrivierbrug tussen Modimolle en Vaalwater omgeslaan het.

Die ongeluk het vroegoggend op Dinsdag 5 September gebeur. Die R33-pad maak ’n skerp draai oor ’n smal bruggie, net ná die lang afdraande van Vaalwater af. Omstanders was net ná 02:20 op die toneel en het hulp ontbied. Tersia van Rheede, wat op ’n nabygeleë plaas woon, het gesê die nooddienste en polisie het sowat ’n uur later opgedaag. Nooddienspersoneel het daarna lank gesukkel om die bestuurder van die vragmotor, wat erg beseer was en nie by sy bewussyn was nie, uit die wrak te bevry. Daar was glo twee ander insittendes, waarvan een per ambulans weggeneem is. Die derde is glo nie erg beseer nie.

Die vragmotor was na bewering vanaf Swartwater op pad mark toe met ’n vrag uie en pampoen. Van die mense wat eerste op die toneel was, kon die eienaar van die vrag se besonderhede op die groentesakkies kry en het hom gekontak.

Kapt. Tiaan Keyter, stasiebevelvoerder van die Vaalwater-polisie, het die bestuurder se dood bevestig. Teen druktyd was min inligting oor die ongeluk bekend.

“Hier is gereeld ongelukke op hierdie stuk pad. Dit is ’n baie gevaarlike pad — dit is ongelyk, smal en het baie draaie. Min bestuurders besef dat die spoedgrens 100 km/h is en nie 120 km/h nie,” het Keyter gesê.

Van Rheede het dit beaam.

“Hier is baie mense wat seerkry. Mense moet stadig ry, want dit is maklik om ’n voertuig hier om te gooi.”

Die pad dra baie swaar voertuie wat op pad is na die myne en kragstasie in Lephalale of die grens wil oorsteek.

Tydens ’n vergadering wat die nasionale padagentskap (Sanral) op Vrydag 11 Augustus in Vaalwater gehou het, is planne om die R33-pad en ander paaie in die Waterberg op te gradeer met die gemeenskap bespreek. Die koste daaraan verbonde om die R33 van die N1 af tot in Modimolle op te gradeer is volgens Sanral R350 miljoen. Dié pad is baie nou en daar is geen padreserwe nie.

Daar word beoog om in Maart 2024 met die werk te begin. Daar sal ’n bykomende R47 miljoen betstee word aan die pad vanaf Modimolle tot by die Lephalale-munisipale grens. Werk aan die pad van Modimolle tot by Witklip sal in Junie 2024 begin. Dié pad en padskouer sal wyer gemaak word. Verteenwoordigers van Sanral het gesê uitgebreide werk sal gedoen word aan dié pad van daar af tot in Vaalwater met verbeteringe aan kruisings en die bou van verskeie nuwe brûe. Die pad deur Vaalwater sal in ’n dubbelbaan verander word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button