Local news

Hof sê wild mag bly ná snotsiekte

Die dringende hofaansoek van ’n beesboer wat vra dat sy buurman onmiddellik al sy wildebeeste en buffels moet verwyder nadat hy 13 Santa Gertrudis-stoetbeeste weens snotsiekte verloor het, is met koste van die hand gewys.

Dr. Hennie Nel van Ngomo Farming het die aansoek op Dinsdag 8 Augustus teen Castle de Wildt se eienaars gebring. Die respondente in die saak was Hartsplaas (PTY) LTD, Crucial Trade 90 (PTY) LTD, Gys Pitzer en Bernard Groenewald.

Die hooggeregshof in Polokwane het op Donderdag 24 Augustus beslis dat Ngomo Farming ook die koste van twee advokate in die respondente se regspan moet dra. Regter GC Muller het in sy uitspraak gesê die applikant se versoek om verligting is verstaanbaar, omdat hy groot skade gely het. Hy het egter nie genoegsame bewyse gelewer dat die buurplaas se aksies inbreuk maak op sy regte nie. Sy versoek dat die wildebeeste en buffels verwyder word, sal die applikante se sakebedrywighede tot ’n stilstand bring. Muller was van mening dat stappe soos heinings wat opgerig word om die diere uitmekaar te hou, moontlik ’n oplossing kan wees.

“Die regering en goedingeligte beesboere en -telers is deeglik bewus daarvan dat wildboerdery vir teel- en jagdoeleindes (nie net in Limpopo nie, maar in die hele Suid-Afrika) bedryf word ten spyte van die bedreiging wat snotsiekte (bovine malignant catarrhal fever) in wildebeeste vir beeste inhou. Nieteenstaande hierdie kennis, word wild- en beesplase saam bedryf. Dit is daarom nie onredelik dat die respondente wildebeeste en buffels op die plaas vir jagdoeleindes gevestig het nie,” het Muller in sy uitspraak gesê.

Nog ’n buurman van Castle de Wildt, Leander Sheppard van Jocwa Beleggings, se aansoek is ook op 8 Augustus aangehoor. In hierdie geval het die betrokke partye ooreengekom dat die respondent op hul kostes ’n heining 100 m van die grensdraad af sal oprig om die verspreiding van snotsiekte te keer. Hulle sal ook Sheppard se voerkraal op hul koste skuif, terwyl Sheppard op eie kostes ’n heining aan sy kant van die grensdraad sal oprig om te verhoed dat sy beeste tot teenaan die grens wei.

Related Articles

Back to top button