Local news

Bekende ‘groenteman’ van Bela-Bela sterf in Kaapstad

’n Bekende en geliefde inwoner van Bela-Bela, André de Jager (65), is verlede naweek in Kaapstad oorlede nadat hy ernstige gesondheidsprobleme ervaar het.

Volgens sy familie is hy in die Karl Bremer-hospitaal oorlede. Hy is opgeneem nadat hy van asemnood gekla het. Die oorsaak van sy dood word volgens sy familie toegeskryf aan hartversaking.

De Jager het die afgelope 25 jaar daagliks aan SUPERSPAR in Bela-Bela hul kraakvars groente en vrugte voorsien wat hy op die mark aangekoop het.

Hy is gebore in Pretoria en het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Johannesburg voltooi.

André was van jongsaf ’n kranige sportman. Hy het as kannetjie reeds Transvaal-provinsiale kleure vir stoei verwerf. Hy het ook later die voorreg gehad om op nasionale vlak mee te ding.

Sy familie vertel dat hy ná skool sy vakleerlingskap in die staalbedryf begin het. Tydens sy dienspligjare was hy by die militêre polisie betrokke.

Ná sy diensplig was hy ’n masjien-operateur by twee maatskappye, Cementation en Mac Steel, waarna hy voltyds by SUPERSPAR betrokke geraak het.

Hy en sy vrou, René, met wie hy 41 jaar getroud was, het elke dag saamgewerk en was ’n hegte eenheid.

“Hy het ’n groot hart gehad. Hy was ’n mense-mens wat altyd probeer het om ander te help en te ondersteun. Hy was bekend vir sy bobaas geregte en het graag geëksperimenteer met nuwe produkte en geure. Sy familie en vriende het geweet as hulle aan sy tafel sit, gaan hulle smul. Hy sal ook onthou word as een van die lojaalste Bloubul-ondersteuners. Hy het elke geleentheid aangegryp om sy span luidkeels op die paviljoen aan te moedig in sy kenmerkende Bloubul-trui. Hy was altyd ’n bok vir sports,” onthou sy familie.

André se begrafnisdiens vind op Saterdag 2 September om 10:00 vanuit die NG Moedergemeente in die dorp plaas.

Hy laat sy vrou, René en sy seuns Jaco en Dawie de Jager en Gerhardt Swart. Sy “dogters” was Chantel Swart, Natasha de Jager en Isabella Koekemoer. Hy laat ook twee broers, Anton en Leon, asook ’n suster Marietjie Opperman agter. Hy was baie trots op sy kleinkinders, Tristan en Lelani de Jager, asook Anabel en Kaylin Swart.

Die familie bedank die hospitaalpersoneel in Kaapstad en almal wat die gesin bygestaan het.

Related Articles

Back to top button