EntertainmentLocal LifestyleLocal news

Kom bult jou kunsspiere by Die Pos Palet-kompetisie

Is jy kunstig? Is jy kreatief?

Kom wys ons wat jy kan doen in die splinternuwe kunskompetisie, Die Pos Palet — van pen tot kwas!

Die Pos nooi alle skoolgaande kinders in die lesersgebied uit om deel te neem.

Die kompetisie gee jong plaaslike kunstenaars die geleentheid om te wys waartoe hulle in staat is. Daar is lekker pryse te wen en die wenners sal aangekondig word tydens ’n gala-aand waar die wen kunswerke ten toon gestel sal word.

In die afdeling vir kleuters (van 3 jaar tot in gr. 1) is die tema “kreatiwi-kryt” met ’n inkleurprent wat ingekleur kan word. Die prent kan op Die Pos se webwerf afgelaai word by https://www.citizen.co.za/die-pos/die-pos-palet-inkleurkompetisie/(.)

Die junior-afdeling is van gr. 2 tot gr.7 en die tema is “My dorp, my mense, my nuus” en vir hul inskrywing kan leerders teken, verf of ’n item beeldende kuns wat herwinde koerantpapier bevat, inskryf. Vir die beeldende kuns kan hulle kreatief raak en hul werk bou uit iets soos papier-maché, koeldrankdoppies, draad of wat-ook-al hulle verbeelding prikkel (onthou net koerantpapier moet deel van jou kunswerk wees). Die kunswerk moenie groter as A1-formaat wees nie. Diegene wat nie kunstig is nie, maar mooi met woorde kan skilder, kan ’n skryfstuk van nie meer as 350 woorde indien.

Die senior-afdeling vir leerders van gr. 8 tot gr. 12 se tema is “Die pen is magtiger as die swaard”. Soos in die junior-afdeling kan leerders teken, verf of ’n beeldhouwerk wat herwinde koerantpapier bevat, inskryf. Dit moet nie groter as A1-formaat wees nie. In die geskrewe afdeling kan hulle ’n ondersoekende nuusberig met bronne ingesluit van 500 woorde skryf.

Die kleuter-/laer- of hoërskool wat die meeste inskrywings het, wen ’n stewige kontantprys wat hul kan aanwend by die skool.

Die Pos het die afgelope week verskeie skole in die lesersgebied besoek met inskryfvorms. Alle inskrywings kan by leerders se onderskeie skole ingehandig word, vanwaar Die Pos dit sal oplaai.

Maak asseblief seker dat die inskrywingsvorm en inskrywingsgeld van R20 stewig vasgeheg is.

Deelnemers mag slegs oorspronklike, eie werk inskryf.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag, 2 Oktober.


Laai jou inskrywingsvorm hier af: https://www.citizen.co.za/die-pos/wp-content/uploads/sites/134/2023/08/Kunskompetisie-inskrywingsforms-engels-en-afrikaans.pdf

Related Articles

Back to top button