Local news

Ruan se boek doen die praatwerk

Sy skryf onbeskaamd-eerlik oor dié tyd in haar lewe.

Vir Ruan Staack (néé) Theron, ’n jarelange inwoner van Bela-Bela wat deesdae in Edenvale, Johannesburg, woon is die publisering van haar eerste digbundel op 68 jaar ’n bittersoet gebeurtenis.

Ruan het haar bundel gedigte, Ontwoning, onder haar nooiensvan gepubliseer.

Die pad tot hier was vol op- en afdraandes en hoewel die woorde lieflik en moeiteloos uit haar vingers vloei, vloei dit deesdae moeisaam van dié vrou se tong af. Haar mooi versorgde hande, vol kunstige ringe, doen meestal die praatwerk.

Skubsel karsimoom (’n soort velkanker) is sowat agt jaar gelede by haar gediagnoseer waarna haar tande, die grootste deel van haar tong en dele van haar kakebeen chirurgies verwyder moes word. Dit het tot gevolg dat sy moelik praat omdat sekere klanke soos ’n “k” onmoontlik is om uit te spreek. Haar dieët bestaan sedertdien uit bykans net vla en jogurt.

Ruan skryf hartroerend oor dié ervaring waartydens sy letterlik “stomgeslaan” is.

… is ek summier kortgeknip,
sprakeloos gelaat
my halwe tong vroetel
aan die vorm van ’n taal (p. 82)

Sy bring haar niggie, Elna Bekker van Modimolle, saam vir die onderhoud met Die Pos. Elna is haar stem, haar bondgenoot, die een wat haar aangepor het om uiteindelik “40 jaar se skryfsels” te laat bind. Ruan het self die voorblad ontwerp en Amanda Carstens van Red Mouse Design & Publication was die projekkoördineerder.

Die eindproduk is ’n versameling werke wat huilmooi is. Sy skryf in die voorwoord:

mag my malheid dignified wees
liewer as om te kwyl en te wieg
aangrypend soos matisse of monet
nie vir my inperkings en boeie nie
asseblief net die vryheid
van kuns en woord

Woorde, boeke en skryf was nog altyd Ruan se groot liefde en ná haar studies in handelskuns aan die Witwatersrand se Kunskollege het sy lank in die advertensiebedryf gewerk. Daar het sy kopieskrywers en digters ontmoet en deel geword van ’n skrywersgroep wat die destydse sensuurwette getrotseer het met hul byeenkomste by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU).

Ná haar egskeiding het sy en haar dogter, René, jare lank in Bela-Bela (haar grootworddorp) gewoon waar René haar laer- en hoërskoolloopbaan voltooi het terwyl Ruan by onder meer Print it, Die Pos-koerant, Warmbad Toyota se kiosk en later as Lucas Venter, destydse handelaarshoof, se persoonlike assistent, gewerk het.

Sy skryf onbeskaamd-eerlik oor dié tyd in haar lewe, want vir haar is digkuns heling.

Die bundel het sterk temas oor moederskap, verslawing, verwoestende verhoudings, jonkwees, oudword en verlies.

Die titel van haar boek, Ontwoning, dui juis op verhuising. Letterlik én figuurlik, want vir haar was daar baie “verhuisings”. Deure wat toegegaan het. Val. Opstaan. Voor begin. Oor begin. Sterflikheid. Ontnugtering en dan, uiteindelik heling.”

maar waar sal jy my vind
in foto’s
gedigte
woorde

Ruan kuier tans vir ’n week of wat by Elna (aan wie sy die gedig die goeie vrou bl. 72) in die bundel opgedra het.

Sy woon in Edenvale saam met René en dié se Bulgaarse lewensmaat (waarna Ruan ook vlugtig in die bundel verwys). René is ’n oudleerder van Laer- en Hoërskool Warmbad wat haar ná skool in die hotel- en spysenieringsbedryf bekwaam het.

Die bundel is tans by Elna in Modimolle beskikbaar by tel. 084 547 1012 en daar is ook ’n paar eksemplare by die Hunky Dory-koffiewinkel in die dorp beskikbaar.

Related Articles

Back to top button