Local news

Plaaslike digter se werk by Taalmonument uitgestal

’n Groot eer het ’n digter en prokureur van Modimolle, Anne-Marie Kotzee, te beurt geval nadat haar gedig “Besembos” deel van ’n uitstalling, in die Groen Galery van die Afrikaanse Taal Monument in die Paarl, was.

Kotzee het verlede jaar tweede plek behaal in die Ink, Skryf in Afrikaans-kompetisie vir volwassenes met haar vermoë om fyn te weef met woorde.

Ink is ’n onafhanklike webwerf wat ’n tuiste bied vir skrywers wat die ontwikkeling van Afrikaanse poësie en kortverhaalkuns na aan die hart lê. Die digters is deur ’n paneel gerekende, onafhanklike beoordelaars gekies.

Ink se beste digters van 2022 se werk was onlangs vir twee maande lank by die opelug-uitstalling te sien wat in Julie tot ’n einde gekom het. Die Ink, Skryf in Afrikaans se 2022-skrywerskompetisie het verlede jaar ’n hoogtepunt bereik met hul sewende prestige gala-aand in Pretoria. Die topinskrywings is uitgestal ter ere van Internasionale Museumdag en Afrikadag wat in Meimaand gevier is.

Kotzee sê dat sy lief is vir skryf en reeds op skool en universiteit haar eerste werk gepubliseer het. Sy durf ook nou ander tale se woorde aan en is besig met ’n Zoom-kursus om Tshwana aan te leer.

Dit is dikwels wanneer skrywers deur moeilike tye gaan, wanneer hul beste woorde na vore kom. Woorde waarmee mense wat ook deur uitdagende tye is, aanklank kan vind. Kotzee beaam dat die dood van haar man aan kanker ’n aantal jare gelede en ’n onlangse motorongeluk waarin sy beseer is, definitief uiting in haar skryfwerk kry.

“Ek vind dit bevrydend as ’n mens jou emosies kan uitskryf,” het sy gesê. “Dit is ’n manier om jou siel skoon te was.”

Haar liefde vir woorde is van jongs af gekweek met die biblioteekbus wat gereeld ’n draai op die klein plaasgemeenskap Nietverdiend in Noordwes gemaak het en die plaaslike biblioteek wat haar ma in ’n rondawel op die plaas gehuisves het.

“Ek koop elke jaar Ink se digbundel wat ek terdeë geniet. Daar is soveel verskillende style en maniere waarop mense dinge beskryf. Ek hou van gedigte wat enige iemand kan verstaan en mee aanklank kan vind,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button