Local news

Nuwe aanslag vir joernaliste

Daar is altyd ruimte om te leer en te verbeter.

Dit is met dié gedagte dat vier redaksielede van Die Pos verlede week die No Guts, No Glory-streekseminaar vir gemeenskapskoerante buite Middelburg, Mpumalanga bygewoon het.

Die seminaar word jaarliks aangebied deur die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste vir koerante landwyd.

Dr. Henning Gericke, die sportsielkundige vir die 2007 Springbok-rugbyspan wat die wêreldbeker gewen het en verskeie ander seëvierende sportspanne, het raad gegee oor positiewe denke.

Inge Kühne, redakteur van Rapport, het gepraat oor die liefde vir (gemeenskaps)koerante en die uitdagings wat media in die gesig staar.

Inge Kühne, redakteur van Rapport.

“Mense sê gereeld hulle wonder of die joernalistiek gaan oorleef. Ek dink joernalistiek sal oorleef en sómmige mediahuise ook, maar dit is moeilike tye waarin ons onsself bevind,” het sy gesê.

Koerante se sakemodel moet aanpas by nuwe tegnologie en werkwyse, maar joernalistiek gaan in die toekoms baie belangrik word.

“Ons leef in ’n tyd van kunsmatige intelligensie en “deep fakes” wat die gewone man op straat moeilik kan onderskei van die waarheid. Hierdie het die potensiaal om groot probleme te veroorsaak en dit sal joernaliste se werk wees om te onderskei tussen wat is waar en wat nie.”

Kühne het ook gesels oor die rol van gemeenskapsjoernalistiek wat dikwels die stories oopkrap en grondwerk doen totdat nasionale koerante daaroor berig.

“Mense is geneig om te dink dat politiek op hoë vlak gebeur, maar julle doen reeds politieke beriggewing. Politiek vind al hoe meer op munisipale vlak plaas,” het sy gesê.

Die forum bied elke jaar ’n kompetisie vir fotograwe en joernaliste aan met die oogmerk om die gehalte van beriggewing te verbeter. Daar is deur talle van die inskrywings gewerk sodat joernaliste kon sien hoe en waar hulle kan verbeter.

André Brandmuller, ’n prokureur van Middelburg, het gesels oor hoe elke joernalis ’n verskil in sy eie gemeenskap kan maak deur betrokke te raak by gemeenskapsprojekte.

Joernaliste is weer bemagtig om met innoverende denke die stories van hul gemeenskappe te gaan opdiep.

Related Articles

Back to top button