Local news

Veelkleurige lemoen laat mense kopkrap

Hierdie kara-kara lemoen (ook bekend as Cara Cara), met gemengde goudgeel en pienk skyfies, het talle inwoners laat kopkrap.

Gawie Richter, inwoner van Bosveldsig in Modimolle, het aan Die Pos vertel dat sy lemoenboom vanjaar ’n hele paar van hierdie tweekleurige lemoene gelewer het.

Die Pos het by ’n sitruskenner van Letsitele, in die Tzaneen-omgewing, gaan aanklop vir ’n verklaring.

“Die Kara-kara navel, wat oorspronklik in Venezuela (Suid-Amerika) ontdek is, se kenmerkende pienk kleur, soortgelyk aan ’n pienk pomelo, is eintlik ’n kleurmutasie wat later in dele van Amerika en die res van die wêreld aangeplant is. Omdat die kleurmutasie se genetiese samestelling onstabiel is, kan daar heelwat variasies in kleur en smaak voorkom. In sommige gevalle kan die geel skyfies soet soos ’n navel proe terwyl die pienk skyfies effens bitter, soos ‘n pomelo, proe. Hierdie genetiese mutasie word ‘n chimera genoem,” het die kenner gese.

Maak nie saak of dit ‘n chimera of mallemeule lemoen genoem word nie — die voorbeelde wat Die Pos geproe het, was stroopsoet.

Related Articles

Back to top button