Local news

Snotsiekte: heinings moet wild weghou

Die uitslag van ’n dringende hofaansoek in ’n geskil tussen ’n wildsboer en beesboer buite Modimolle ná vrektes van stoetbeeste aan snotsiekte, is steeds nie bekend nie.

Die Pos het verlede week berig dat dr. Hennie Nel, wat reeds 20 jaar op sy plaas boer en ’n groot Santa Gertrudes-stoetkudde bedryf, ’n dringende hofaansoek in die hooggeregshof in Polokwane teen sy buurman, die eienaars van Castle de Wildt, gebring het. Dit het gevolg nadat hy 14 stoetbeeste verloor het. Die hofaansoek is op Dinsdag 8 Augustus aangehoor, maar volgens sy regsverteenwoordiger, Marinus van Jaarsveld, wag hulle nog op die uitspraak.

Nóg ’n buurman wat skade gely het as gevolg van snotsiekte, Leander Sheppard van Jocwa Beleggings, se hofaansoek is dieselfde dag aangehoor. Die hofaansoek het gevolg nadat ’n aanmaningsbrief in Mei aan sy buurman, Castle de Wildt, gestuur is.

Die respondente in dié saak was ook Hartsplaas (PTY) LTD, Crucial Trade 90 (PTY) LTD, Gys Pitzer en Bernard Groenewald. Albei partye is in die hof verteenwoordig deur senior en junior advokate.

Volgens Nicholas van den Heever, Sheppard se regsverteenwoordiger, is sy kliënt se voerkrale teen die grensdraad geleë waar die wildebeeste van Castle de Wildt tot teenaan die grensdraad wei.

Die betrokke partye het beraadslaag oor oplossings en die hof het beslis dat Hartsplaas (Pty) LTD, Crucial Trade (PTY) LTD en Gys Pitzer teen nie later nie as 30 September ’n heining met tien drade, wat minstens 1,2 m hoog is en wildebeeste doeltreffend kan binne hou, moet oprig. Die heining moet 100 m binne die bestaande grensdraad opgerig word.

Die respondente moet op hul koste Sheppard se voerkraal skuif na ’n plek wat hy sal aandui en dit toerus met water, elektrisiteit en die bestaande veiligheidskameras laat herïnstalleer.

Sheppard moet op sy beurt ’n heining van 100 m van die grensdraad af op sy eie plaas opreig wat verhoed dat sy beeste tot teenaan die grensdraad wei.

Die partye is self verantwoordelik vir die kostes van hul hofaansoeke.

Hierdie is na wat verneem word nie die enigste plase waar snotsiekte probleme vir beesboere veroorsaak nie. Elders in Die Pos se lesersgebied is boere ook haaks oor wildebeeste wat tot teenaan beesplase wei.

Related Articles

Back to top button