Local news

Ondernemings in puin ná brand

Twee ondernemings in die hoofstraat van Modimolle was vandeesweek binne ’n kort tydjie deur ’n verwoestende brand in puin gelê.

’n Brand het op Woensdagoggend 16 Augustus vermoedelik by Tukitech, wat motors herstel, uitgebreek. Dié onderneming deel ’n gebou met Nyl Uitlate, wat ook deur die vlamme verwoes is.

Volgens Jaco Pretorius, eienaar van Nyl Uitlate, het hy kort ná 09:00 ’n oproep ontvang dat sy onderneming brand en hulp nodig is.

“Ons het die brandweer geskakel, maar daar was nie antwoord nie. Iemand anders het hulle wel in die hande gekry.”

Omstanders het ’n minibus en motor uit die geboue gesleep gekry, maar die motor was reeds erg beskadig.

Jaco Pretorius (tweede van links) word ondersteun deur vriende en sakelui terwyl sy gebou brand.

Ooggetuies het gekla hoewel die brandweer opgedaag het, die groot brandweerwa nie veel water kon spuit nie en weer vertrek het. Brandbestryders het met ’n bakkie en ’n kleiner spuit probeer om die vlamme te tem. Working on Fire se spanlede het ook ingespring met hul voertuig en toerusting. Die groot brandweerwa het wel teen 10:00 weer opgedaag, maar het glo nie genoeg druk gehad om water te spuit nie. ’n Tweede brandweerwa, wat ongeveer 10:30 opgedaag het, kon die vlamme blus met ’n sterk straal water, maar die skade was reeds gedoen.

Verskeie voertuie is in die brand beskadig. Hier is een van die voertuie wat uit die brandende geboue gesleep kon word.

Jacques Roos van Nyl Brake and Clutch en Hein Vermaak van Auto Cool, wie se ondernemings verlede jaar in Februarie afgebrand het, was op die toneel om Pretorius te ondersteun.

Pretorius, wat in ’n rolstoel voor sy onderneming gesit het, herstel nog nadat hy lank in die hospitaal was. Hy bedryf die onderneming sedert 2006 in die gebou.

Hy het bevestig dat sy onderneming en gebou wel verseker is. Die oorsaak van die brand was nie teen druktyd bekend nie.

“Ons is baie dankbaar vir almal wat kom help het en ons ondersteun. Baie dankie aan Ernst Bruwer van Working on Fire wat vinnig ingespring het om die vlamme te blus. ’n Groot dankie aan almal wat ondersteun en bemoedig,” het Sanet, Pretorius se vrou gesê.

Related Articles

Back to top button