Local news

Legendariese Esté Pienaar gesels met Die Pos

Vir Esté Pienaar (80) voel die verhoog soos haar tweede huis en toneelspeel is haar kos.

Die Pos het met die legendariese aktrise, afrigter en diva van Mookgophong gaan gesels oor haar lewe en ervarings in die vermaaklik-
heidsbedryf.

“Ek het in ’n gesin groot geword waar musiek en die kunste baie hoog geag is. My oupa het my geleer dat balans in die lewe noodsaaklik is en dit is wat ek altyd probeer uitleef het,” het sy vertel.

Esté woon sedert 2020 in Mookgophong en vir haar is die mense wat sy hier ontmoet het kosbaar. Die platteland het vir haar rustigheid gebring. Ná 57 jaar in die onderwys het sy van Mogale City (Krugersdorp) af verhuis en nou is die Waterberg haar tuiste.

Esté is in Johannesburg gebore en het daar groot geword waar sy nie ’n geleentheid laat verbygaan het om die teater te besoek. Die huis het later plek gemaak vir die bekende Stadskouburg in Johannesburg.

“Ek het ’n sjieling (sowat 10c) sakgeld gekry waarvan ’n sikspens (5c) vir die toegang by die fliek was en die ander sikspens vir koeldrank en sjokolade. Dit was in die ou Metro in Jeppestraat,” het sy nostalgies vertel.

Reeds in haar matriekjaar by Hoërskool Monument in Krugersdorp is haar stem al gehoor in verskeie oorklankingsproduksies van die SAUK. Sy het rolle gehad in Blitspatrollie, Meisie van Avignon, Angelique en die speurreeks Derrick.

Sy het in 1963 aan die Universiteit van Potchefstroom haar studies begin en haar graad in Engels en drama met lof geslaag. In 1971 het sy haar lisensiaat in spraak en drama (Speech and Drama) by die London Trinity College met lof geslaag. Sy het die onderwys in 1978 verlaat om by die SAUK te werk en deel geword van die oorklanking van die gewilde Heidi-kinderstorie.

“My grootste rol wat ek gespeel het was in my derde jaar as student — die rol van Helen Keller waar ek blind moes wees. Dit was fantasties en ek het ook ’n toekenning daarvoor ontvang,” het sy ewe beskeie vertel.

Vir haar is die verhoog ’n plek waar jy in die karakter van iemand anders kan klim en die gehoor met jou spel kan aanraak.

Afgesien van die jare as kunsdirekteur by Hoërskool Monument, het sy ook haar eie dramaskool gehad waar bekendes soos Neil Sandilands, Anton Schmidt, Brett Adler en Brandon Eloff onder haar afrigting groot hoogtes bereik het. Sy het ook ’n ere-penning en oorkonde van die ATKV ontvang vir die uitbou van Afrikaans en gemeenskapsdiens.

Haar dramastudente van Hoërskool Roodepoort het Suid-Afrika verteenwoordig in Indië tydens die 2000 se “Performing Arts Week for Children en verower ook die Naledi-toekenning “for best community theatre” in die Sound Stage-teater.

Sy is die skepper van die revue-genre by skole en die onderwysdepartement het só byval hierby gevind dat Esté ’n hele skoolkwartaal vrygestel is van alle normale skoolverpligtinge om skole in die destydse Wes-Transvaal te gaan help om hierdie revues op die been te bring.

Sy het die geleentheid gehad om wêreldreise te onderneem en van die hoogtepunte was die Taj Mahal in Indië, die Grand Canyan in Amerika en die klein dorpies in Switzerland.

In die gesprek met hierdie merkwaardige vrou vertel sy entoesiasties dat sy glo in die toekoms van ons land as elkeen begin om in sy of haar klein groepie ’n verskil te maak. Sy glo dat die jongmense van vandag baie geleenthede het, maar ook soveel meer uitdagings as voorheen. Sy leef steeds haar passie uit en rig nog tonele af en hou landwyd vertonings.

Related Articles

Back to top button