Local news

Sakemanne pak mekaar in die hof oor snotsiekte-gevaar

’n Dringende hofaansoek is vandeesweek in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor nadat ’n beesboer buite Modimolle glo 14 Santra Gertrudis-stoetbeeste weens snotsiekte verloor het.

Dr. Hennie Nel, wat al 20 jaar lank op die plaas boer, vra dat die blouwildebeeste op die buurplaas, Castle de Wildt, geskuif moet word om sy beeskudde van dié dodelike siekte te vrywaar. Die saak sou op Dinsdag 8 Augustus aangehoor word.

Die respondente in die saak is Hartsplaas (PTY) LTD, Crucial Trade (PTY) LTD, Gys Pitzer, Bernard Groenewald en die provinsiale direkteur van veeartsenydienste in Limpopo. Pitzer het aangedui dat hy die aansoek gaan teenstaan.

Blouwildebeeste moes geskuif word om beeste te vrywaar van snotsiekte. Foto: flickr

Snotsiekte (bovine malignant catarrhal fever) is ’n dodelike virussiekte wat van wildebeeste oorgedra word na buffels en beeste. Daar is tans geen effektiewe behandeling daarvoor nie. Die naam is beskrywend van die simptome wat die diere ervaar met ’n slymerige oog- en neusafskeiding wat omskakel in longontsteking wat beeste se asemhaling belemmer. Dit is ’n aanmeldbare siekte.

Volgens die nasionale dieregesondheidsforum (NAHF) is besmette wildebeeste, hoewel hulle gesond is, aansteeklik wanneer hulle onder strestoestande is byvoorbeeld gedurende kalf- en speenseisoen. As teenvoeter word daar dikwels by die riglyn gehou dat ’n afstand van ’n kilometer tussen beeste en wildebeeste gehandhaaf word.

Onderstepoort Biological Products (OBP) is besig met die ontwikkeling van ’n entstof teen die siekte wat jaarliks duisende beeste regoor die land eis.

Die Pos verneem dat boere elders in die lesersgebied hul ook tot die hof gewend het weens verliese as gevolg van snotsiekte.

Related Articles

Back to top button