Local news

‘Om beter te kan hoor, my kind’

Dink ek aan gehoor kom die storie van Rooikappie in my gedagtes op. Rooikappie vra die nare wolf (vermom as haar ouma) hoekom sy ore so groot is en dan kom die antwoord: “Om beter te kan hoor, my kind”.

Gelukkig is hierdie net ’n sprokie. By geboorte word jou gehoor vir die eerste keer getoets en sodra jou kind begin praat, besef jy goeie luistervaardighede is noodsaaklik vir jou kind se taalontwikkeling.

Wanneer ’n mens ouer word, neem baie van ons se gehoor af en tree gehoorverlies in. Die implikasie van gehoorverlies is dat jy ontneem word van dinge wat die res van ons as vanselfsprekend ervaar, byvoorbeeld televisie kyk, kuier met familie of om vir hulp te vra by ’n winkel.

Gehoorverlies by volwassenes kan tot werksverlies lei, verlies aan sosiale bande, eensaamheid en depressie. Dit is dus belangrik om vroegtydig jou gehoor te laat toets. Die Pos se personeel is verlede week deur Mariza Hamman, ’n oudioloog by dr. Roelf Coertze se spreekkamer in Bela-Bela, genooi vir ’n gratis gehoortoets.

Sy vertel net soos ’n algemene doktersondersoek is ’n gehoortoets belangrik sodat verandering in jou gehoor vroegtydig opgespoor kan word.

Hamman het ’n otoskopie op elkeen gedoen waarin sy in die ore kyk om te sien of alles normaal lyk. Die personeel se ore is toe met ’n oudiometer getoets en dit word aangedui op oudigram.

Sy verduidelik sifting (wat suiwertoon luggeleiding is) word gedoen om te sien of daar ’n probleem is met die gehoor en of ’n volledige diagnostiese oudiogram nodig is. “Ek het met julle meer frekwensies getoets as die tipiese siftingsoudiogram en ook tot op die vlak waar jy kan hoor en nie gestop waar gehoor nie meer normaal is, soos wat siftings gewoonlik is nie.”

Die Pos se personeel het die volgende geleer:

  • Pas jou ore op, pas jou gehoor op. Gebruik gehoorbeskermers wanneer jy in ’n raserige omgewing is.
  • Moenie wattestokkies, vuurhoutjies of haarnaalde, tandestokkie of penproppies in jou ore druk om dit skoon te maak nie. Die oor maak homself skoon (ja, daar is mense wat was opbou, wat verkieslik deur ’n dokter of ander professionele persoon verwyder moet word).
  • Laat jou gehoor gereeld evalueer. Net soos met ander mediese toestande is dit makliker om oplossings te kry as gehoorprobleme vroegtydig opgespoor word.

Wat sê die personeel?

Willie Nel:
Dit was baie interessant en ek was beïndruk met die sorgvuldige ondersoek wat Mariza gedoen het. Ek het net weer besef hoe belangrik dit is om na jou liggaam om te sien. Daar is geen plaasvervanger vir gesonde ore nie.

Maria Oberholzer:
Ek het nooit gedink dat medikasie ’n rol speel met ons gehoor nie. Ek kon sekere geluide nie hoor nie, maar volgens Mariza is dit niks om oor bekommerd te wees nie.

Ronél van Jaarsveld:
In ’n mens se veertigs is daar reeds ’n klompie kilometers op jou lyf en jou oë wil nie meer so lekker sien nie, knieë wil pyn as die reën kom en nekke wil nie meer heeltemal negentig grade draai soos voorheen nie. Dit was goed om te hoor dat ore nie een van die dinge is waaroor ek hoef te bekommer nie en as bonus het die oudioloog ons touwys gemaak waarvoor om uit te kyk in die toekoms. Sy vertel dat gehoorverlies bydraend kan wees tot ’n afname in kognitiewe vermoeë. Ek gaan dus my ore mooi oppas.

Andries van der Heyde:
In die koerantbedryf is goeie gehoor ’n vereiste; nes ’n goeie voertuig. Mariza het my daarop gewys dat my ore eintlik ’n “diens” nodig het. Die feit dat ek nog ’n jong man is, tel in my guns, maar ek het nooit geweet dat oorstokkies meer skade doen as wat dit eintlik skoonmaak nie. Dit neem professionele mense soos Mariza om ons daaraan te herinner dat ons self verantwoordelik is vir ons gesondheid en dit is in ons eie belang om hul advies te volg.

Keina Swart:
Sjoe, ek het nogal vooraf gedink my gehoor is redelik goed, maar ek moes hoor dat gereelde sinusinfeksies, harde houe teen die kop soos met motorongelukke en gereelde harde geraas teen die ore (soos wanneer ’n mens aan geweerskote blootgestel word) jou gehoor negatief beïnvloed. En ja, ek is baie skuldig aan die oorgebruik van wattestokkies. Ek gaan sommer dadelik ophou daarmee!

Annelien du Preez:
Wat ’n aangename persoon. Sy het nie eens geraas oor my ore nie, inteendeel het sy gesê dat sy kan sien ek boor nie in my ore met stokkies nie. As ek in die toekoms enige probleme met gehoor ervaar, sal ek vir seker weer by haar gaan aanklop vir hulp.

Deon van Eck:
Die toets was interessant omdat ek besef het hoe tegnologie verander het. Ek het my gehoor laas getoets toe ek sewe jaar oud was en die aparaat was baie analoog. Vandag is dit digitaal en die toerusting wat gebruik is, is baie meer gevorderd. Die aangename manier hoe Mariza met jou gesels en verduidelik hoe die toets werk, is definitief ’n pluspunt.

Petro Greeff:
Die besoek was baie professioneel en vriendelik en die diens deeglik.

Sue Kotze:
Baie dankie vir ’n deeglike gehoortoets. Mariza is baie bekwaam en straal ’n warmte uit wat jou dadelik op jou gemak laat voel. Dit was ’n verligting toe sy sê dat my gehoor nog besonder goed is vir my jare. Ek kan haar aanbeveel vir inwoners wat wonder of hul gehoor verswak. Sy is verseker ’n aanwins vir ons dorp se gesondheidsorg.

Maria Makwela:
Wat ’n wonderlike voorreg om jou ore gratis te laat toets. Baie dankie Mariza. Dit was die eerste keer dat ek vir ’n gehoortoets gegaan het en ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ek het geleer dat oorstokkies nie naby jou ore moet kom nie. Gelukkig kan ek nog hoor!

Charmaine Lourens:
Mariza is ’n aangename mens wat jou met die intrapslag op jou gemak stel. Met die oudiometer word jy gedwing om fyn te luister en as jy gedink het jou gehoor is perfek, vertel Mariza vir jou ná die toets daar is tog geluide wat jy gemis het of nie gehoor het nie. Ek het geleer harde musiek en oorfone is ’n groot euwel. Die ore maak hulself skoon; so los die wattestokkies. Medikasie en siektetoestande kan jou gehoor pootjie.

Related Articles

Back to top button