Local news

Kan regering betroubare gehalte water voorsien?

"Ons kan nie langer op die regering staatmaak om veilige drinkwater te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte."

Die cholera-uitbreking vroeër vanjaar het die kollig geplaas op die regering se mislukking om daadwerklik op te tree om die uiters swak toestand van Suid-Afrika se natuurlike waterhulpbronne en die verval van waterinfrastruktuur regoor die land te takel.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê omdat miljoene liters rou riool weens die swak toestand en onvoldoende kapasiteit van rioolwaterbehandelingswerke in riviere gestort word, word die ideale toestande vir die verspreiding van wateroordraagbare siektes soos cholera geskep.

AfriForum het op Woensdag 26 Julie hul tiende jaarlikse #Skoonwater-projek in Bela-Bela geloods.

“Die einste riviere waarin riool gestort word, is die bron van drinkwater vir miljoene mense landwyd, maar omdat drinkwaterstelsels ook in ’n swak tot kritieke toestand is, word die gesondheid van landsburgers ernstig bedreig,” waarsku De Vaal.

AfriForum het op Woensdag 26 Julie hul tiende jaarlikse #Skoonwater-projek in Bela-Bela geloods. Watermonsters is van munisipale drinkwater by Laerskool Warmbad se koshuis en by die dorp se rioolwerke van verwerkte rioolwater geneem om te toets. Verskeie takke landwyd neem jaarliks aan die projek deel om die gehalte van hul gebied se drink- en rioolwater te toets.

Daar sal altesaam 150 dorpe se water getoets word.

“Altesaam 51% van drinkwaterstelsels het ’n swak of slegte mikrobiologiese watergehalte status behaal, 71% het daarin misluk om chemiese voldoening te bereik en 334 munisipale rioolafvalwaterbehandelingswerke is in 2022 tot ’n kritieke toestand verklaar,” vertel Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake.

“Dit is feite wat deur die publikasie van die departement van water en sanitasie se eie interim 2023 Blou-en-Groendruppelverslae aangedui word. Ons kan nie langer op die regering staatmaak om veilige drinkwater te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte.”

Die toetsresultate sal later bekendgemaak word.

“Indien ons toetse aandui dat daar nie aan die voorgeskrewe standaarde voldoen word nie, sal AfriForum verseker dat gemeenskappe onmiddellik van enige gevare in kennis gestel word en die betrokke munisipaliteit aanmaan om die probleme so gou as moontlik op te los,” sê De Vaal.

Related Articles

Back to top button