Local news

Jasper-pad herstel ná nodige spanwerk

Die boere in die Jasper-omgewing buite Modimolle ry weer sit-sit-so nadat ’n bykans onbegaanbare grondpad ná maande se gesukkel herstel is.

Tydens die hoë reënval vroeër vanjaar het damme water in die pad bly staan en dit het sake vir motorryers bemoeilik. Die D1324-pad, ’n grondpad naby Kranskop, is in ’n vlei-agtige gebied geleë en dreineer nie maklik nie. Vragmotors van boere in die omgewing en langafstandbestuurders wat die tolhekke en dorp wil vermy, gebruik ook hierdie roete.

Voor pad herstel is: Damme water het vroeër vanjaar die Jasper-pad buite Modimolle bykans onbegaanbaar gemaak.

Boere in die omgewing het ingespring en hul eie toerusting en geld gebruik om die probleem op te los, maar ná elke reënbui was daar weer skade. Neels Pretorius, raadslid van die Vryheidsfront Plus, het die amptenary van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se paaie-afdeling versoek om hand by te sit met die projek.

“Danksy almal wat saamgewerk het, is daar 14 dreineringspype onder die pad ingesit en die pad is weer gekompakteer en geskraap. Die probleem is hopelik nou permanent opgelos,” het Pretorius gesê. “Ek wil nie hê dat inwoners moed verloor nie. As ons aanhou saamwerk, kan positiewe dinge soos hierdie gebeur,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button